fbpx

Boere bespreek behoeftes en uitdagings tydens Re Gola Mmogo-boeredag

Die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai), ’n netwerk van familieboere en boerderybelanghebbendes wat na familieboere omsien, het op 11 September 2019 ’n boeredag by The Hub in Tzaneen aangebied. Daar is intens met kommunale boere, kleinskaal- en nedersettingboere, kommersiële boere en begunstigdes van grondhervorming gepraat oor hul behoeftes, aspirasies, frustrasies en uitdagings.

Swart gesinsboere sukkel om winsgewend en volhoubaar te boer en het ernstige verstellings aan die beleidsomgewing nodig om vooruit te kan boer.

“Min swart boere kry toegang tot finansiering omdat hulle dikwels nie die grond waarop hulle boer besit nie. Die staat is verlede week gedwing om die plaas in Limpopo waarop David Rakgase reeds 27 jaar boer, aan hom te verkoop. Sonder die verbreding van eiendomsreg sal beleggings in landbou nie groei nie, en swart boere het by die boeredag dit duidelik gestel dat hulle titelaktes wil hê,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter wat namens Saai bygedra het tot die fasilitering van dié dag.

Die gebrekkige navorsing om die geldigheid van grondeise te bepaal, binnegevegte onder die kommunale eiendomsverenigings (CPA’s) en swak bestuur van staatsgrond is klippe in die pad na sukses.

Boere wat die dag bygewoon het glo dat ’n spesiale finansieringsmeganisme, soortgelyk aan die ou landboukredietraad, ver kan gaan om die bankbaarheid van nuwe toetreders te verbeter.