fbpx

Saai bekommerd oor grondeise

Die toename in die getal grondeise wat in die aanloop tot 2021 se plaaslike verkiesings weer aktief verwerk word, is vir die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) ’n bron van kommer.

“Dié verhoogde aktiwiteit word weerspieël in ’n toename in plaasbesoeke deur eisers en amptenare verbonde aan die grondeisekommissie, aanbiedinge aan grondeienaars en druk om hul eiendom teen minder as markwaarde te verkoop,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Saai is bekommerd oor die gebrek aan deursigtigheid in dié proses, veral omdat grondeienaars sukkel om basiese dokumente – soos eisvorms en die navorsing oor geldigheid van eise – van die Departement Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling te kry. In die meeste gevalle wil dit voorkom of daar nooit navorsing gedoen is nie.

Hoewel die Departement en veral die Grondeisekommissie die afgelope tyd herhaaldelik bloedneuse in die howe kry en verdoemende uitsprake oor gebrekkige administrasie en wanbestuur tot groot verleentheid gelei het, beur amptenare voort om grondeienaars buite die wetlike of voorgeskrewe prosesse te intimideer.

Die hoofredes vir die kommer sluit in:

  • Die Departement se gebrekkige begroting om die grond te koop wat hulle in die proses betrek;
  • die stadige pas waarteen die proses gedryf word – sekere eise waarvan die grondeienaars reeds in 2002 aanbiedinge aanvaar het, is steeds nie afgehandel nie;
  • verwagtinge wat by grondeisers geskep word dat hulle óf plase, óf finansiële vergoeding gaan kry in die geval van eise waarvan die geldigheid onder verdenking is; en
  • ’n gebrek by die Departement en veral die Grondeisekommissie om binne ’n realistiese begroting die vermoë te skep om die eise te verwerk en af te handel.

Saai het by verskeie grondeienaargemeenskappe in KwaZulu-Natal, Gauteng, Limpopo en Noordwes betrokke geraak om hulle van prosedurele en regsadvies te bedien, praktiese hulp by in loco-inspeksies te verleen en die geaffekteerde grondeienaars in die proses te ondersteun.

“Terwyl grondeienaars individueel aan onbeholpenheid, korrupsie en wanbestuur in die Departement en die Grondeisekommissie uitgelewer is, is goeie organisering en kollektiewe aksie onontbeerlik om boere se belange te beskerm,” meen De Jager.