fbpx

Ondersteun Saai: 

Saai en CFU hou byeenkoms vir Zimbabwiese boere rakende vergoedingseise

Saai (Suider-Afrika Agri Inisiatief) gaan Suid-Afrikaanse boere wat hulle plase in Zimbabwe verloor het, bystaan om vergoeding te ontvang. Saai is ook besig om Zimbabwiese boere wat na Suid-Afrika uitgewyk het met vergoedingseise by te staan danksy sy netwerk van vennootorganisasies.

In ’n dramatiese wending het die Zimbabwiese regering onlangs aangekondig dat boere wat sedert 2000 hulle plase weens grondhervorming verloor het, vergoed gaan word. As eerste stap is ’n bedrag uit vanjaar se begroting voorsien om tussen boere te verdeel wat finansieel swaarkry.

Dié aanbod deur die Zimbabwiese regering kom op die vooraand van die Wêreldbank se Lenteberaad, waarvan Zimbabwe uiters afhanklik is vir sagte lenings om sy ekonomie weer op dreef te kry. Die internasionale voorwaarde van vergoeding aan boere wat sedert 2000 onder die sogenaamde “versnelde grondhervormingsprogram” van hulle plase ontneem is, asook die sanksies wat daaroor teen Zimbabwe ingestel is, kniehalter tans ekonomiese groei in dié land.

Saai wil die 800 Suid-Afrikaanse slagoffers van Zimbabwe se rampspoedige grondhervormingsprogram byeenroep.

Besonderhede vir die byeenkoms waartydens Saai, Agri All Africa, die CFU en die regspan inligting oor die proses, prosedures en strategie sal deel, is soos volg:

Datum:  23 April 2019
Tyd:       19:00
Plek:      Silver Lakes Gholflandgoed se Klubhuis, Pretoria

Vir meer inligting, kontak Saai gerus by [email protected].

* Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) is ’n landboubelangenetwerk vir boere deur boere, wat daartoe verbind is om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere in die primêre produksiesektor te beskerm en te bevorder.