fbpx

Saai veroordeel MRK se onlangse Malema-beslissing

Saai is uiters geskok oor die flagrante rassisme waarop die Menseregtekommissie (MRK) sy bevinding oor Malema se haatspraak teen wit en Indiese mense skoei. Die MRK se ideologies gelaaide uitsprake is etlike jare reeds onder verdenking. Die nuutste argumente, naamlik dat die mate van benadeling in ’n vorige bedeling die kwaliteit van menseregte vandag kan bepaal, is egter verregaande.

Ongeag die MRK se agenda en bedenklike uitsprake, is daar geen manier waarop die ANC en EFF hulself – met dreunsang soos Kill the Farmer en in politieke toesprake waarin geweld teen veral wit boere aangestook word – van die hoogste moordsyfer in die wêreld kan verontskuldig nie. Ten spyte van die skreiende gebrek aan beriggewing daaroor in die Engelse media, sal die geskiedenis die afgelope twee dekades onthou weens die wegholsyfers van plaasaanvalle en die onmenslike marteling wat met plaasmoorde gepaardgaan, terwyl die regering bloedwynig gedoen het om dit te bekamp.

Saai skaar hom by dié deel van die Suid-Afrikaanse en internasionale gemeenskap by wie die MRK alle geloofwaardigheid verloor het, en verwelkom en ondersteun regsaksies om die MRK se aktiwiteite en oordeel binne internasionaal aanvaarbare en beskaafde norme te kry.