fbpx

Saai: Volgehoue voedselproduksie is die pad na oorlewing in kwarantyn

Saai, die organisasie vir familieboere, verwelkom die regering se ferm optrede om die koronavirus te stuit, maar bestudeer nog die maatreëls wat die president aangekondig het om die potensiële implikasies vir boerderye te bepaal. Saai verwelkom veral die uitsondering van voedselproduksie en -verspreiding in die opskorting van ekonomiese bedrywighede.

Terwyl ondernemings in ander sektore van die ekonomie dramaties moet afskaal en selfs sluit, kan voedselproduksie en -verspreiding nie tot stilstand kom nie. Saai en sy netwerkvennote is deurlopend besig om die beste praktyke te ondersoek om waardekettings te laat vlot, en deel graag dié uitslae met familieboere. Boere se toegang tot produksiemiddele soos veemiddels, voer, spuitstowwe, kunsmis en diesel is wesenlik belangrik om oeste te beskerm, te versorg of in produksie te kry.

Saai het onlangs – in samewerking met ’n aantal ander landbou-unies – deur Medihelp Mediese Skema die struktuur en inhoud van ’n mediese skema gefinaliseer wat vir familieboere pasgemaak is. In só ’n groepskema kan boere ouer as 50 jaar van die hoër premies vrygeskeld word en die gesondheidsrisiko’s vir hul families deur ’n spyskaart van opsies teen verskillende prysstrukture bestuur. Die uitbreek van die koronapandemie het die dringendheid van dié skema onderstreep. Saai besef die maatreëls gaan groot druk op die ekonomie plaas en die behoefte vir konstante voorraad van bekostigbare voedsel was nog nooit so belangrik nie.

Saai en sy netwerkvennote het ook ’n reëling met ’n groothandelverskaffer van ’n geregistreerde handontsmettingsmiddel gesluit om die beskikbaarheid daarvan op plase en elders in die waardeketting te verseker.

Daar heers onsekerheid oor verskeie aspekte van die produksieproses en waardekettingkwessies soos uitvoermaatreëls, arbeid en logistiek wat Saai en sy netwerkvennote met die toepaslike owerhede sal opneem. Saai versoek dat enige boere wat probleme ondervind om oeste of ander produkte te oes en mark toe te vat, ons kontak met die oog op moontlike regsbystand. Kontak ons by [email protected] of 066 071 6094.