fbpx

Saai vra vir herinstelling van SAOG-tribunaal

Die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai) beplan om groter momentum aan die groeiende regsdruk op die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) te gee om weer die SAOG-tribunaal in te stel.

SAOG-leiers het dié tribunaal in 2011 ontbind ná ’n aantal uitsprake teen die Zimbabwiese regering, wat verklaar het dat die onteiening van privaat eiendom sonder vergoeding in dié land ongeldig en teenstrydig is met die SAOG-verdrag.

Ná verdoemende uitsprake in die Suid-Afrikaanse hoë hof en Konstitusionele Hof dat oudpresident Jacob Zuma se steun aan die ontbinding van die tribunaal in 2014 ongrondwetlik en irrasioneel was, het pres. Cyril Ramaphosa Suid-Afrika se ondertekening van dié ontbindingsooreenkoms die afgelope naweek by die 39ste SAOG-beraad in Tanzanië teruggetrek. Hoewel Saai dié stap verwelkom, bly dit tragies dat politieke leiers nie self die morele leiding oor universele beginsels kan neem nie, maar deur die howe daartoe gedwing moet word.

“Dit is belangrik dat organisasies van regoor die spektrum die herinstelling van die tribunaal ondersteun. Hierdie tribunaal skep ’n alternatiewe remedie vir persone waar geskille met die staat ontstaan. In die konteks van onteiening sonder vergoeding sal hierdie beslis ’n strategie wees om te volg,” sê dr. Theo de Jager, Saai se direksievoorsitter.

Die hooggeregshof in Tanzanië het in Junie ’n soortgelyke uitspraak gelewer en die Tanzaniese regering se steun aan die ontbinding van die tribunaal veroordeel.

Die SAOG-regsvereniging het ook ’n sterk beroep gedoen dat die tribunaal heringestel moet word. Die opsigtelik onregmatige ontbinding van die tribunaal het Suider-Afrika se aantreklikheid as ’n beleggingsbestemming ernstige skade berokken in ’n tyd waarin dié streek dit die minste kon bekostig.