fbpx

Saai vra vir samesmelting van departemente

“Weens die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming se onvermoë, ideologiese verknogtheid aan sosialistiese modelle, omvangryke korrupsie en nepotisme – soos sowel die Kgalema Motlanthe-verslag as die spesiale ondersoekeenheid uitgewys het – kan dié departement in sy huidige samestelling en prestasie onmoontlik nie ’n bydrae lewer om ’n klas van winsgewende swart boere te skep nie,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Saai doen derhalwe ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa om dié departement met die departement van landbou, bosbou en visserye te laat saamsmelt en met die herstrukturering gevolglik van korrupte en onderpresterende amptenare ontslae te raak.

Sommige van Saai se lede in Limpopo wat reeds in 2013 danksy die herverdelingsprogram plase op ’n huurpagbasis ontvang het, het steeds nie ’n sent se hulp van die staat ontvang om aan die gang te kom nie. Dít skep frustrasie, onstabiliteit en konflik op die platteland.

Swart boere wat plase deur grondhervorming van die staat ontvang het, is aan mislukking uitgelewer. Hulle het geen toegang tot finansiering nie, kry swak of geen tegniese adviesdiens nie en al die staat se beloftes van ondersteuning het steeds nie gerealiseer nie.

Die gebrekkige koördinasie tussen die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming en die departement van landbou, bosbou en visserye dra daartoe by dat swart boere wat op staatsgrond boer nie winsgewende produsente word nie. Saai en sy netwerkvennote wil so gou as moontlik in samewerking met verteenwoordigers van hierdie swart boere ’n aanbeveling by die nuwe minister maak dat swart boere ook titelaktes ontvang van plase wat aan hulle toegeken word.