fbpx

Saai wil resolusie ter beskerming van familieboere aan VN voorlê

Saai het vandag aangekondig dat dié landboubelangenetwerk ’n familieboerresolusie gaan opstel om in 2020 voor die Verenigde Nasies (VN) ter tafel te lê. Dít vorm deel van ’n groter veldtog om misdade teen familieboere deurlopend op die internasionale agenda te plaas.

Saai het in Mei vanjaar die bekendstelling van die VN se dekade vir familieboere (2019 – 2028) in Rome bygewoon. By hierdie geleentheid, wat as raamwerk dien om die internasionale gemeenskap te mobiliseer om pro-familieboerbeleide te skep, het Saai spesifiek die kwessie van plaasmoorde en die veiligheid van familieboere geopper.

“Die belange en veiligheid van ons familieboere móét beskerm word, want hierdie mense is die ruggraat van ons samelewing. Daarom het Saai besluit om saam met verskeie akademici en regslui ’n resolusie vir die beskerming van familieboere te skryf,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

Die resolusie wil staatsinstellings wêreldwyd verbind om die veiligheid van familieboere deurlopend as prioriteit te ag. Saai sal daarom oor die volgende 11 maande verskeie regerings en landbou-organisasies regoor die wêreld besoek om steun vir dié resolusie te werf. Indien dit genoeg steun geniet, sal die resolusie by die VN se algemene vergadering in September 2020 ter tafel gelê word.

“Die VN en sy agentskappe besef dat familieboere in die beste posisie is om die uitdagings van hongersnood, werkloosheid en migrasie aan te pak. Die wêreld kan egter nie van familieboere verwag om hierdie reuseverantwoordelikheid te dra as hul eie regerings nie bereid is om hul veiligheid te prioritiseer nie,” sluit Rossouw af.

Saai se familieboerresolusie is by www.boereresolusie.co.za beskikbaar.