Manifes

Leidende beginsels

Familieboerdery

Die Ruggraat van Landelike Ontwikkeling en Volhoubare Toekoms

Globaal gesproke word drie belangrike argumente beklemtoon waarom familieboerdery die hoeksteen van volhoubare landelike ontwikkeling is. Eerstens rugsteun familieboere ekonomieë buite die grense van stedelike gebiede. Tweedens kan familieboerderye verstedeliking en armoede effektief voorkom en beperk. Derdens hou dit dissipline, stabiliteit en waardes in landelike omgewings in stand.

Landelike gemeenskapsleiers is dit eens dat skole, kerke en koöperatiewe of landbougebaseerde besighede onmisbaar is vir die voortbestaan van plattelandse dorpe. Wanneer enige een van hierdie verdwyn, begin 'n dorp sy identiteit en lewenskragtigheid verloor en word dit slegs 'n geraamte van wat dit eens was, aangesien mense na groter dorpe en stede aangetrek word. Geen sektor akkommodeer 'n groter verskeidenheid entrepreneurs of skep 'n breër spektrum van werksgeleenthedeop die plaas en beide stroomop en stroomaf in die waardekettingds, en welvaart as familieboerderye nie. Familieboerderye kan met reg beskou word as die gom wat landelike gemeenskappe bymekaar hou.

Die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief (Saai) is juis te midde van hierdie uitdagings, en binne die werklikheid van die Vierde Industriële Revolusie, gestig. Saai is 'n netwerk van gedeelde landboubelange, vir boere deur boere, en is daartoe verbind om die regte, waardes, ideale en behoeftes van familieboere binne die primêre produksiesektor te beskerm en te bevorder.
Boere word vandag genoodsaak om 'n veelheid van uitdagings die hoof te bied, waaronder grondhervorming, veiligheidsrisiko's, beperkende handelsmaatreëls, klimaatsverandering, asook 'n gebrek aan ontwikkeling, opleiding, energie, hulpbronne, water, landelike infrastruktuur, tegnologie en toegang tot finansiering in die landboubedryf. Hierdie werklikhede plaas enorme druk op familieboere en bedreig die volhoubaarheid van landelike gemeenskappe.

Saai is as belangegroep daartoe verbind om nie bloot op beleidsaanpassings te hoop nie, maar om 'n aktiewe rol te speel in die ontwikkeling en uitvoering van strategiese en praktiese oplossings vir hierdie en ander landbouverwante uitdagings. Daarmee wil Saai verseker dat familieboerderye nie net oorleef nie, maar ook kan groei, floreer en voortgaan om die ruggraat van landelike Suid-Afrika te vorm.

"Saai beskou homself as 'n voertuig"

Om bogenoemde sake na te streef, nie as 'n tradisionele landbou-unie nie, maar eerder as 'n netwerk wat gebou is op samewerking en die toepassing van moderne tegnologie en suiwer beginsels.

Familieboere in Suider-Afrika, waar Saai dienste lewer, is nie slegs groot of klein, ryk of arm, oud of jonk, swart of wit, gevestig of opkomend, manlik of vroulik nie. Hulle is families wat deur middel van hul bestuur en verbouing van primêre produkte uit die grond uit besighede ontwikkel.

Verenig Deur Samewerking

Saai beskou homself as 'n voertuig om bogenoemde sake na te streef, nie as 'n tradisionele landbou-unie nie, maar eerder as 'n netwerk wat gebou is op samewerking en die toepassing van moderne tegnologie en suiwer beginsels. Familieboere in Suider-Afrika, waar Saai dienste lewer, is nie slegs groot of klein, ryk of arm, oud of jonk, swart of wit, gevestig of opkomend, manlik of vroulik nie. Hulle is families wat deur middel van hul bestuur en verbouing van primêre produkte uit die grond uit besighede ontwikkel.

Saai beskik oor toegang tot kundige vennote wat ons in staat stel om 'n wye spektrum vraagstukke onder die mikroskoop te plaas op grond van samewerkingsooreenkomste en wedersydse ondersteuning van landboubesighede, met handelsorganisasies, navorsings- instellings, belange-organisasies in ander sektore en landbou organisasies wat op ander ondersteuningsbasisse fokus. Dit is om hierdie rede dat Saai bestaande landbou-unies en organisasies wat ons waardes deel, as vennote in die bereiking van ons doel beskou, en verenig eerder as verdeel. Saai beskou landboubesighede en die regering as belangrike rolspelers vir die bevordering van landbouhandel en sal voortdurend daarna streef om samewerking met hierdie partye te bevorder indien dit tot voordeel van ons boere is. Die belange van boere en die genoemde partye stem egter nie altyd ooreen nie.

Boer Met Die Oog Op Die Toekoms

Saai streef na 'n landbouvriendelike toekoms en glo dat ons netwerk hierdie oortuiging in sy wese en in sy struktuur moet weerspieël. Ons wend behoeftegerigte tegnologie aan vir werwing, voorsiening van mandate, en besigheidsgerigte optrede. Hierdie werkswyse stel Saai in staat om direk met ons lede te kommunikeer. In die lig van risikos waarmee boere daagliks moet rekening hou, is dit 'n prioriteit om hulle van gebeure wat hulle belange raak op hoogte te hou en hulle toe te rus om hulle belange deur kollektiewe optrede te bevorder.

VN se Dekade vir Familieboerdery

Saai het binne die etos en raamwerk van die Verenigde Nasies (VN) se Dekade vir Familieboerdery 2019-2029 ontstaan en beskou die Suider-Afrikaanse landbousektor as een met 'n gedeelde toekoms en as geintegreerd met landbou ontwikkelinge en voedselsisteme op die Afrika kontinent en in die wêreld.

Hoewel beinvloeding van beleidsvorming Saai se mees prominente funksie is, is dit nie die enigste funksie nie. Saai strek hulle net wyer as beinvloeding van beleid, na konkrete optrede soos projekte, veldtogte en aktiewe optrede. Hierdie sake word egter gerig deur 'n beleid in ooreenstemming met die waardes en belange van boere en die tersaaklike tyd en omstandighede (konteks). Waar beleid of beleidsimplementering faal, soos wat dikwels in Suid Afrika gebeur, kan Saai verder as beleidsbeïnvloeding gaan en alternatiewe strukture of stelsels ontwikkel wat na die belange en behoeftes van boere kan omsien.

Prioriteitsareas

Saai het 17 areas vir die toepassing van sy waardes tot voordeel van familieboerderye in Suid- en Suider Afrika geidentifiseer. Hierdie sake word nou verder bespreek.

Armoede

Saai beveg armoede deur welvaartskepping, 'n benadering wat histories as effektief en volhoubaar bewys is. Geen sektor in Suider-Afrika kan armoede vinniger, goedkoper en op 'n groter skaal aanspreek as landbou nie, mits regerings beleid implementeer wat volhoubare en winsgewende boerdery bevorder. Daarom fokus Saai op markgedrewe en winsgewende landbou in die armste gebiede en werk saam met netwerkvennote aan landbouontwikkelingsprojekte in hierdie gemeenskappe.

Onteiening sonder vergoeding en die gebrek aan sekerheid oor eiendomsreg is groot oorsake van ekonomiese agteruitgang, verhongering en werkloosheid, en bly 'n kernprioriteit vir Saai.  
Saai beskou basiese dienste soos onderwys, opleiding, infrastruktuur, gesondheid, werkskepping, elektrisiteit en water as noodsaaklik vir landelike ontwikkeling en armoedeverligting, en help waar moontlik om hierdie dienste te herstel of te vestig.

Omdat oneffektiewe ekonomiese beleid landboufinansiering in baie dele van Suider-Afrika laat ineenstort het, wat boere se groei, meganisering en toegang tot tegnologie beperk, werk Saai aan alternatiewe oplossings om familieboere te ondersteun. Saai is ook aktief betrokke by privaat inisiatiewe vir rampverligting en tegniese bystand, vry van politieke, rasgebaseerde en ander diskriminerende maatreëls.  

Honger

Saai se visie is om 'n wêreld te help ontwikkel wat vry is van hongersnood, waar almal toegang tot kos het, veral in Afrika. Wanneer mense honger ly, het dit 'n negatiewe effek op die vrede en veiligheid van familieboere.

Saai is oortuig dat die ernstige probleem van ondervoeding in Afrika slegs met goeie toegang tot die verkryging van proteine teëgewerk kan word. Derhalwe beywer Saai homself vir verhoging in produksie van lewendehawe, verbetering van genetika en groter effektiwiteit met betrekking tot suiwel-, vark-, pluimvee- en rooivleisboerderye. Een van die rede hiervoor is dat groot getalle mense in Afrika nie oor maklike toegang tot plantgebaseerde alternatiewe beskik nie.

Omdat effektiwiteit 'n belangrike invloed op markte het, is SAAI oortuig daarvan dat produktiwiteit, tegnologie, kommersialisering, modernisering en meganisering van landbou hongersnood kan teëwerk.  

Die feit dat digitale tegnologie en biotegnologie kompetisie grondig beinvloed, lei daartoe dat Saai familieboere aan die nuutste tegnologie blootstel. SAAI is van mening dat tegnologiese gevorderdheid slegs moontlik is op grond van navorsing en ontwikkeling, innoverende en hoë kwaliteit opleiding en investering.

Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat investering berus op veiligheid, stabiliteit en 'n markvriendelike beleidsomgewing. Saai is daarom daarop gerig om gesonde besigheidsbeginsels in nasionale en streeksbeleid te bevorder. Laasgenoemde sluit versekering van eienaarskap en 'n gelyke en regverdige speelveld betreffende internasionale handel in.

Gesondheid

Groot afstande vanaf openbare dienste maak familieboere kwesbaar weens beperkte toegang tot gesondheidsfasiliteite. Daarom bevorder Saai fisiese en geestesgesondheid in landelike gebiede, met inagneming van Suid-Afrika se unieke omstandighede en die belangrikheid van persoonlike, gesins- en plaasveiligheid.

Weens die agteruitgang van openbare gesondheidsdienste en mediese kundigheid steun Saai privaat inisiatiewe wat vry van staatsinmenging is.

Saai glo dat mense se dieet en die kwaliteit van landbouprodukte fundamenteel tot globale gesondheid is. Gevolglik bevorder Saai die naspoorbaarheid van landbouprodukte, die bekamping van antimikrobiale weerstandigheid, korter waardekettings vir vars produkte en die vermindering van geprosesseerde kos.

Binne die raamwerk van 'n Een Gesondheidsisteem ondersteun Saai grond-, plant- en dieregesondheid, met die uiteindelike doel om menslike gesondheid te bevorder.

Onderwys

Onderwys is die sleutel tot welvaartskepping en die bekamping van armoede en hongersnood. Saai is daarvan oortuig dat daar geen volhoubare toekoms vir familieboere moontlik is sonder 'n radikale verbetering van onderwys en opleiding in Suid-Afrika nie.

Saai beywer hom vir 'n sterker en meer doeltreffende onderwyssisteem, met 'n spesifieke fokus op:

  • Moedertaalonderrig in die klaskamer, veral in wiskunde en wetenskap
  • Die werwing van bekwame, gekwalifiseerde en toegewyde onderwysers
  • Gratis primêre en sekondêre onderrig
  • Die handhawing van hoë standaarde en gelyke geleenthede sonder diskriminasie op grond van ras, geslag, taal, kultuur, godsdiens of politieke affiliasie

Waar onderwys, en veral landbou-opleiding, deur ideologiese, politieke of onwettige optrede benadeel word, of waar daar teen leerders en studente gediskrimineer word, ondersteun Saai die ontwikkeling van privaat, selfonderhoudende instellings. Hierdie instellings moet vry wees van staatsinmenging en uitsluitlik op uitnemendheid fokus.

Deur hierdie benadering dra Saai by tot die verbreding van vaardighede en kundigheid binne die samelewing en help om werkloosheid te beperk. Saai ondersteun universeel-aanvaarde wetenskaplike standaarde en beginsels en werk aktief daaraan om dit regdeur die onderwyssisteem te bevorder.

Geslagsgelykheid

Saai ondersteun geslagsgelykheid en diskrimineer daarom nie teen ondersteuners, leierskap, werknemers, dienste en aktiwiteite rakende geslag nie. Geen persoon word bevoordeel of afgewys op grond van daardie person se geslag nie.

Saai beywer homself vir 'n landbou-omgewing waar geslag geen rol speel met betrekking tot eienaarskap, bestuur, geleenthede en finansiering nie. Binne die raamwerk van Saai se fundamentele verbintenis tot familieboere is die voortbestaan van gesonde gesinne 'n prioriteit asook 'n kriterium waarvolgens uitgangspunte en handelinge beoordeel word.

Water

Die grondslag van Saai se beskouing oor water is dat voldoende skoon water vir primêre gebruik beskikbaar moet wees, en die volhoubare gebruik en bestuur van waterbronne vir lewende hawe en plantproduksie.

Omdat geen produksie sonder water kan plaasvind nie, beywer Saai hom vir regverdige en billike bestuur van waterbronne vir alle mense. Alle vorme van waterbesoedeling moet bestry word en Saai sal, waar nodig, toegang tot en gelyke toedeling van water aan familieboere bevorder.

Herwinning, en beide die skep en instandhouding van infrastruktuur, word as prioriteite vir funksionering en voortbestaan van familieboere beskou.

Verteenwoordiging van familieboere se belange rakende beleidmaking en waterbestuurstrukture op alle vlakke is belangrik. Saai beywer homself vir 'n regulatoriese bedeling wat vry is van politieke, ideologiese en korrupte inmenging.

Energie

Vrye toegang tot elektrisiteit, brandstof en ander vorme van energie is 'n voorvereiste om die beleidsdoelwitte wat hierbo bespreek is en ook verder bespreek sal word te bereik en om hongersnood en armoede in Afrika suksesvol te bekamp.

Dit is egter waar dat veral landelike gebiede in Suider Afrika nog baie moet doen om hierdie punt te bereik. Selfs in areas waar energie wel beskikbaar en toeganklik is, word dit hoofsaaklik uit fossielbrandstowwe soos olie en steenkool gegenereer.

Saai beywer homself vir betroubare toegang tot bekostigbare elektrisiteit en brandstof vir landelike families, vir hernubare bronne in hierdie verband en vir geleenthede aan familieboere om hulle grond te bewerk met energie wat uit hernubare bronne op hulle eie plase gegenereer word.

Energie is 'n belangrike diversifiseringsgeleentheid vir familieboere, en Saai beywer hom daarvoor om 'n beleidsomgewing te skep waarin families ook winsgewend met energie kan boer.

Werksgeleenthede en Ekonomiese Groei

Die landbousektor beskik oor meer potensiaal as ander industrieë om volhoubare werksgeleenthede in verafgeleë landelike gebiede waar sodanige geleenthede werklik nodig is te skep.

Om hierdie doel te bereik is dit egter noodsaaklik dat 'n beleidsomgewing geskep word waardeur werkskepping gestimuleer word. Verder is dit belangrik dat die ekonomiese bydrae, produktiwiteit en waarde van elke werker groter is as die risiko wat hy/sy binne die regulatoriese raamwerk verteenwoordig.

Familieboere behoort as werkgewers die vryheid te hê om werknemers wat nie aan die behoeftes van die familie- onderneming voldoen nie, of watnie in die etes van die familie- onderneming inpas nie af te dank.

Die voorwaardes vir 'n werkskeppingsvriendelike beleidsomgewing is soortgelyk aan dié vir investering en ekonomiese groei wat binne die Suider Afrika konteks op vryemark beginsels en eiendomsreg gebaseer is.  

Saai ondersteun gelyke besoldiging vir gelyke werk, produksiegebaseerde vergoeding en vryheid van keuse, assosiasie en geleenthede. Saai verwerp enige vorm van diskriminasie op grond van ras, geslag en ouderdom, enige vorm van gedwonge arbeid en slawerny, kinderarbeid, mensehandel en uitbuiting.

Werksgeleenthede en indiensneming is direk eweredig aan vaardighede, opleiding en ekonomiese groei. Hierdie belangrike aspekte word deur Saai aan die aantreklikheid van beleggersinvestering in die lanbou-industrie gekoppel.

Industrialisering, Innovasie en Infrastruktuur

Volgens Saai kan landbou in Afrika slegs 'n volwaardige rol as welvaartskepper en voertuig vir landelike ontwikkeling inneem indien dit moderniseer, meganiseer en kommersialiseer.

Om hierdie doel te bereik moet landbou deur goeie landelike infrastruktuur soos paaie, treinspoorlyne, konnektiwiteit, openbare dienste, water en so meer gerugsteun word. Hoewel die staat vir hierdie dienste verantwoordelikheid moet neem, noodsaak die afwesigheid daarvan in Suid-Afrika dat, terwyl druk op die staat geplaas word om hierdie dienste te lewer, privaat inisiatiewe hierdie dienste sover as moontlik sal oorneem.

Landboufinansiering is 'n prominente hindernis ten opsigte van landbouontwikkeling. Gevolglik is geskikte toegang tot finansiering vir familieboerderye 'n prioriteit met die oog op beide die industrialisering van waardekettings en infrastruktuurontwikkeling.  
Saai beywer homself nie slegs vir die belange van familieboerderye nie, maar fokus ook op digitalisering van boerderypraktyke en die bekendstelling van nuwe tegnologie om sodoende mededinging te verhoog.

Groter Gelykheid in en Tussen Lande

Saai beskou gelykheid as 'n inset eerder as 'n uitkoms en gegewe die uitkomste van kommunistiese en sosialistiese eksperimente van die afgelope eeu, vermy Saai herverdeling, onteiening, of gedwonge transaksies ten einde gelykheid te bewerkstellig.

Saai is daarvan oortuig dat gelykheid bereik kan word deur gelyke geleenthede te skep, veral betreffende onderwys, opleiding en beleid wat werkskepping op grond van prestasie en produksie aanmoedig.

Saai is daarteen gekant dat onproduktiewe persone, groepe en liggame dieselfde vergoeding en groter erkenning as hulle produktiewe eweknieë sal ontvang. Lande waarvan die beleidsraamwerke onvriendelik teenoor werkskepping, beleggings, of besigheid is, het meer ongelyke uitkomste in vergelyking met lande wat produktiwiteit, beleggings en prestasie aanmoedig.

Arm lande met korrupte regerings kan nie aanspraak maak op dieselfde uitkomste as lande waar verantwoordelikheid, verantwoordbaarheid en eerlikheid as waardes gerespekteer word nie.

Volhoubare Stede en Gemeenskappe

Verstedeliking verander die wêreld ingrypend, maar Saai glo dat sterk familieboerderye in landelike gebiede hierdie tendens kan stuit en selfs omkeer deur 'n volhoubare alternatief vir stadslewe aan jong gesinne te bied.

Dit kan bereik word deur lewensvatbare dorpe te ontwikkel waar skole, kerke en besighede floreer en waar familieboere kan saamwerk aan kollektiewe waardetoevoeging. Stede bly belangrike markte vir voedsel en vesel, daarom is positiewe kommunikasie en samewerking met stedelike gemeenskappe noodsaaklik.

Droogtes, brande en onrus bedreig die voortbestaan van dorpe en familieboerderye ernstig. Die staat behoort omvattende rampverligtingsprogramme te inisieer, maar waar dit ontbreek, raak Saai betrokke by onafhanklike, nie- diskriminerende en deurigtige inisiatiewe wat vry van staatsbeheer funksioneer.

Landelike veiligheid is een van die grootste uitdagings vir gemeenskappe en boere. Daarom vorm Saai vennootskappe ter ondersteuning van plaas- en buurtwagte en ander sekuriteitstrukture om gemeenskappe te beskerm.

Verantwoordelike Verbruik en Produksie

Verbruikers vorm die belangrikste teikengroep vir familieboere: hulle bepaal wat, hoe en hoeveel geproduseer moet word. Verbruikers se voor- en afkeure lei produksieprosesse en verbruikers self raak toenemend meer ingelig en veeleisend.

Saai se beleid, projekte en kommunikasie is daarop gemik om vertroue en begrip onder verbruikers te kweek en instand te hou.

Klimaat

Klimaatverandering affekteer min beroepsgroepe so intens soos wat dit boere tref, en klein- en mediumskaal familieboerderye beskik nie oor doeltreffende buffers om hulle hierteen te beskerm nie.

Saai ondersteun pogings om skadelikke kweekhuisgasse te verminder, maar glo dat dit veral uit die energie en vervoersektore kom wat van fosielbrandstof afhanklik is. Die negatiewe invloed hiervan is onvergelykbaar met dié van metaangas wat deur die lewendehawe industrie vrygestel word.

Saai promoveer en beskerm volhoubare lewendehawe produksie op nasionale en internasionale forums as 'n oplossing vir klimaatsverandering en nie as 'n probleem nie.

Saai ondersteun die voortdurende verhoging van standaarde, naspeurbaarheid en deursigtigheid en bly op die voorpunt van digitale tegnologie ten einde familieboere in staat te stel om hieraan te voldoen. Beide produsente en verbruikers behoort verantwoordelik op te tree sodat die voedselsisteem gesond kan bly.

Saai beklemtoon die bekamping van vermorsing en verliese in die voedselsisteem en glo dat dit deur meetbaarheid bestuur kan word. Saai beskou ook die hantering van chemiese spuit- en bemestingstowwe as deel van verantwoordelike produksieprosesse.

Oseane

Saai is daartoe verbind om seebesoedeling te bestry, veral die afloop van chemikalieë in waterbronne as gevolg van landbouaktiwiteite.

Familievissermanne is soos familieboere primêre produsente, met gedeelde belange, uitdagings en bedreigings. Daarom sal Saai netwerkverhoudings met die georganiseerde familie vissery-industrie nastreef en opbou.

Saai sal saamwerk met die oog op volhoubare, wetenskaplik- gebaseerde gebruik van die blou ekonomie.

Lewe op Land

Saai beskou die volgende sake as prioriteite weens die feit dat dit beslissend is vir die langtermyn voortbestaan van familieboere: die beskerming, bewaring en bevordering van die volhoubare gebruik van ekosisteme op land, insluitend die stryd teen woestynvorming, ontbossing van natuurlike woude, gronderosie en gronduitputting.

Hierby ingesluit is die beskerming en bevordering van biodiversiteit en ekosisteme wat op beide grond- en vars water gebaseer is. Dit lei daartoe dat Saai ook betrokke is in die beskerming van berggebiede, ander filtreergebiede en alle lewende spesies. Saai is daarom fundamenteel gekant teen onwettige jag, indringing van eksotiese spesies en die vernietiging van ekosisteme.

Saai aanvaar dat landbou nie in harmonie met die natuur kan geskied nie omdat die natuur nie die surplusse bied wat benodig word om 'n vinniggroeiende globale populasie te voed nie. Om surplusse te produseer word boere verplig om die balanserende funksies van die natuur teë te werk, soos byvoorbeeld deur predasie en insek- en onkruidbeheer.

However, every farmer is aware of how he/she, as a steward of a piece of land, can allow nature to take its course and leave it in a better condition for future generations than it was received.

Peace, Justice and Strong Institutions

Saai believes that peace, justice, non-discrimination, self-governance and the decentralisation of power are essential for communities and states to flourish. Where democracy, the rule of law, law and order, separation of powers and respect for the constitution are absent, countries worldwide have experienced the collapse of agriculture, economies and stability.

Saai advocates for freedom of choice, speech, association and freedom from discrimination and poverty. The organisation arose at a time when state capture, corruption, incompetence and mismanagement had undermined basic freedoms and state functions to such an extent that the survival of family farming was threatened.
Saai forms part of a broader effort to establish sustainable, state-resilient structures through civil organisation, mobilisation and action.

History shows that the collapse of law and order, farm violence, expropriation without compensation and state interference in markets have devastating consequences. Therefore, Saai sees it as part of its mission to actively counter these phenomena.

Saai strives to influence national policy through persuasion, legal action, international pressure and protest actions so that a safe, free and prosperous environment can be created in which family farming can continue profitably and sustainably.

Elke boer is egter bewus op watter wyse hy/sy as bewaarder van 'n stuk grond die natuur sy gang kan laat gaan en dit in 'n beter toestand vir volgende geslagte agterlaat as wat hy/sy dit ontvang het.  

Vrede, Geregtigheid en Sterk Instellings

Saai glo dat vrede, geregtigheid, nie- diskriminasie, selfregering en die desentralisering van mag noodsaaklik is vir gemeenskappe en state om te floreer. Waar demokrasie, die oppergesag van die reg, wet en orde, verdeling van magte en respek vir die grondwet ontbreek, het lande wêreldwyd die ineenstorting van landbou, ekonomieë en stabiliteit beleef.

Saai beywer hom vir vryheid van keuse, spraak, assosiasie en die vryheid van diskriminasie en armoede. Die organisasie het ontstaan in 'n tyd toe staatskaping, korrupsie, onbekwaamheid en wanbestuur basiese vryhede en staatsfunksies sodanig ondermyn het dat die voortbestaan van familieboerderye bedreig is.

Saai vorm deel van 'n breër poging om volhoubare, staatsbestande strukture deur burgerlike organisering, mobilisering en aksie te vestig.