By die Suider-Afrikaanse Agri Inisiatief (Saai) glo ons dat die familieplaas die hoeksteen van ons landbou-erfenis is. As ’n belangnetwerk wat geheel en al deur boere geskep is, is ons onwrikbaar daartoe verbind om die regte, waardes en bedryfsbehoeftes van diegene in die primêre produksiesektor te beskerm. Ons staan saam om te verseker dat die ideale van familieboerdery vandag én vir die toekoms beskerm word.





Ons is onbeskaamd op Christelike waardes gegrond.
Ons glo onwrikbaar in demokratiese beginsels sonder diskriminasie op grond van ras, rykdom, ouderdom, herkoms, taal of geslag.
Ons skakeling en verhoudinge is gegrond op wedersydse respek, sonder om die kern van botsende waardes, belange of behoeftes te vermy of af te water.
Ons glo dat die uitbreiding van toegang tot grondbesit en kommersiële landbou gegrond moet wees op billike, volhoubare en vryemarkbeginsels, insluitend vrywillige deelname, vryheid van assosiasie en markverwante vergoeding.
Ons erken dat armoede en werkloosheid die grootste bedreiging vir stabiliteit en vrede in Suid-Afrika is en glo dat die landboubedryf in ’n besigheidsvriendelike beleidsomgewing ’n groot rol kan speel om hierdie faktore in landelike gebiede te beredder.
Ons beywer ons vir die instandhouding van die Grondwet van Suid-Afrika in sy huidige formaat, die nasionale akkoord, en alle regte soos vervat in die universele Deklarasie van Menseregte, as basis vir beleid en wetgewing om inklusiewe ekonomiese groei en vrede te bewerkstellig.
Ons glo dat welvaartskepping deur die toepassing van vryemarkbeginsels en gewaarborgde privaat eiendomsreg die hoeksteen van ekonomiese groei is, en die enigste volhoubare kans bied om werk te skep en armoede uit te wis.
