
Namens die duisende familieboere wat Saai verteenwoordig, verwelkom ons Donovan Marx se ontslag uit die hospitaal. Boere is verlig en verheug oor sy spoedige herstel en wens hom verdere genesing en voorspoed toe, sowel in sy herstel van sy beserings as met sy boerdery.
’n Voorval soos die aanval op Donovan het ’n veel wyer impak as bloot die trauma wat die slagoffer, sy gesin, familie en plaaswerkers ervaar. Die hele gemeenskap word daardeur getraumatiseer en met woede en angs vervul. Elke boer vereenselwig hom of haar met die lot van die slagoffer, in die wete dat niemand immuun teen sulke aanvalle is nie en dat dit enige tyd met enige boer kan gebeur.
Hierdie besef lê aan die wortel van die groeiende spanning tussen die boerderygemeenskap en die ANC oor die erns van plaasaanvalle, asook die toenemende internasionalisering van die krisis. Terwyl die ANC se houding teenoor hierdie gruwelike verskynsel wissel van volslae ontkenning – soos president Cyril Ramaphosa se uitspraak by die Verenigde Nasies in New York in 2018: “There are no killings of farmers or white farmers in South Africa” – tot pogings om die marteling, verminking en uitwissing van gesinne as bloot “gewone misdaad” af te maak, stel die Verenigde State fondse beskikbaar vir navorsing en traumaberading.
Teen die agtergrond van die Konstitusionele Hof se weiering om boere se saak oor aanhitsing deur slagspreuke soos “Kill the farmer, kill the Boer” aan te hoor, en die gebrek aan politieke wil om plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad te verklaar, maak voorvalle soos die aanval op Donovan Marx dit toenemend onmoontlik vir die boerderygemeenskap en die ANC om gemeenskaplike grond te vind.
Donovan Marx se oorlewing van hierdie gruweldaad, sy spoedige herstel en sy moedige glimlag met sy ontslag uit die hospitaal is ’n inspirerende simbool van die deursettingsvermoë, vasberadenheid en genade wat boere, ondanks eksistensiële bedreigings, op hul plase laat voortboer.
