Saai eis geregtigheid ná wrede marteling van Donovan Marx

Saai eis geregtigheid ná wrede marteling van Donovan Marx

November 2, 2026

Saai is dankbaar teenoor die plaaswagte, private sekuriteitsdienste en polisie wat bygedra het tot die arrestasie van vyf verdagtes wat met die gruwelike marteling van Donovan Marx verbind word. Elke boerderyfamilie hoop dat geregtigheid sal geskied en dat die plaasaanvallers se straf in verhouding tot die omvang en impak van hul gruweldade sal wees.

Dit is vir Saai belangrik dat die aard en brutaliteit van Marx se marteling wêreldwyd gesien word binne die konteks van die verwronge waardes en gebroke samelewingsorde waarin Suid-Afrika verval het. Dit sluit in die ontkenning van plaasaanvalle deur die regering en sekere mediahuise; die owerhede, howe en joernaliste wat die slagspreuk “Kill the farmer, kill the Boer” goedkeur en bevorder; en politieke leiers, waaronder Andile Mngxitama, wat selfs in die parlement onbeskroomd en sonder gevolge geweld teen boere aan ’n misplaaste politieke strewe verbind.

Die verminking van nóg ’n boer, tesame met die enorme druk wat dae lank op die grootste plaaslike mediahuise uitgeoefen moes word voordat sommige hoegenaamd oor die voorval berig het, is volgens Saai ironies genoeg juis ’n bewys van die politieke komplot waaroor die Suid-Afrikaanse regering in die VSA en elders ter wêreld onder skoot is. Dit is veral kommerwekkend dat die erns van plaasaanvalle steeds deur groot dele van die media ontken of geïgnoreer word.

Saai sal nie ophou om op elke moontlike manier verdere druk te mobiliseer nie, plaaslik én internasionaal, om plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad te laat verklaar en ’n einde aan die slagspreuk “Kill the farmer, kill the Boer” te bring.

‍

Francois Rossouw
CEO
Proudly designed, developed, and maintained by Tecbot.