Afwesigheid Is Erger As Die Virus

Afwesigheid Is Erger As Die Virus

March 4, 2026

Afwesigheid is die grootste struikelblok in die geveg teen bek-en-klouseer. By ’n internasionale konferensie oor bek-en-klouseer in Kaapstad, waar Suider-Afrika se beste veeartse, invloedrykste amptenare, boere, entstofvervaardigers, besluitnemers van die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie, die Wêrelddieregesondheidsorganisasie en die Pirbright-verwysingslaboratorium insette gelewer het, het deelnemers tot dié besef gekom. Die wêreld en die subkontinent se mees gerekende kundiges oor B&K was onder een dak om idees, kundigheid en wetenskap uit te ruil, maar die Departement van Landbou was nie daar nie.

Elke suksesvolle en onsuksesvolle buurstaat het ook sy ervaring van die siekte gedeel, en raad en hulp gevra en gekry, behalwe Suid-Afrika. Nie eers die Wes-Kaap, ’n klipgooi van die konferensiefasiliteit, was teenwoordig of betrokke nie.

“Ons kan die spanning en frustrasie aanvoel,” het ’n hooggeplaasde VN-amptenaar gesê toe hy oor staatsbeheer oor bek-en-klouseer gevra is. “Ons weet nie hoe om te help as die regering self nie opdaag nie!”

Daar is verduidelik dat die afwesigheid van die staat die werklikheid is waarmee elke boer, elke onderneming en elke gemeenskap in Suid-Afrika moet leer saamleef.

Voordat hy onseremonieel uit die ministeriële taakspan van veeartse geskop is, het dr. Danie Odendaal dikwels gekla dat senior amptenare nooit hulle vergaderings bywoon nie. Hulle afwesigheid veroorsaak kommunikasieleemtes, ’n onvermoë om enige aanbevelings te implementeer, en konflik tussen die ervaring en kundigheid in die private sektor en die mags- en materiële belange van berugte amptenare in die diep staat van landbou.

Dieselfde versugting kom week na week uit die minister se industriekomitee: dat daar nooit ’n geleentheid is om met die minister en sy senior amptenare oor beleidsaspekte te praat nie. Vergaderings word ’n onderlinge warmbroeiery omdat die departement afwesig is.

Die departement moes onmiddellik ná die bevestiging van die B&K-uitbraak in November 2024 in die noorde van KZN ’n siektebestuursgebied verklaar het en met inentings begin het. Vir vyf maande was hulle egter afwesig, en het eers in Maart 2025 daarby uitgekom, nadat B&K reeds na naburige provinsies uitgebrei het.

As die verantwoordelike senior amptenare nie afwesig was nie, sou die plaaslike virusmonsters nege maande vroeër na die Pirbright-verwysingslaboratorium gestuur gewees het. Geen druk of aanmoediging uit die industrie kon die departement beweeg om die monsters te stuur nie, en in die afwesigheid van die staat mag die private sektor dit nie self doen nie.

In die ergste uitbraak van ’n staatsbeheerde siekte is die staat, wat in die beheerstoel behoort te sit, afwesig.

Vroeër jare is die siekte beheer deur padblokkades rondom geaffekteerde areas op te rig en die beweging van vee te beperk. Die weermag, polisie, verkeersdepartemente, kommando’s en boereverenigings was almal daar, aanwesig. Maar die staat is die afgelope 15 jaar afwesig.

Nadat minister Steenhuisen op 25 November 2025 die inentingsbeleid verander het, en daardeur die regulasies oor inenting irrelevant gemaak het, is geen nuwe regulasies in plek gestel nie. Verskeie organisasies en ondernemings werk aan konsepte en insette vir nuwe regulasies, maar die departement is afwesig.

Die afwesigheid van die staat laat boere raadop. Uit instink wil boere instaan waar die departement leemtes laat, en self die funksies vervul waar pap op die grond val. Ons boere beleef die grootste dringendheid omdat ons die meeste het om te verloor.

Maar omdat B&K ’n staatsbeheerde siekte is waaroor die staat nou beheer verloor het, bly die veebedryf aan ’n afwesige staat uitgelewer. Die enigste hoop is dat die hof vir die private sektor die reg sal bevestig om, in die afwesigheid van die staat, daardie ruimtes te betree wat vir die doeltreffende bekamping van die siekte onmisbaar is.

Dr Theo de Jager
Board Chair