
Twaalf jaar later woon ek weer ’n kongres van Vrystaat Landbou by. Ek groet ou vriende, gesels met groot geeste met wie ek sedertdien net op Facebook kontak gehad het, neem foto’s saam met jong boere, en glimlag en waai stram vir die "ander kamp" wat ook as gaste bywoon.
Vrystaat Landbou was in ’n waardevolle vennootskap met Saai en Sakeliga in die hofsaak waarin die staat se monopolie in die besluitneming en bestuur van inentings teen Bek-en-Klouseer tot ’n einde gekom het, en daarmee saam die uitsluiting van sekere landboubelangegroepe op die ministeriële advieskomitees. Agri-SA het as moederliggaam hom daaroor van Vrystaat Landbou gedistansieer, en sewe ander provinsiale landbou-unies se skriftelike mandate teen die hofsaak en ten gunste van sentrale staatsbeheer gepubliseer.
Vrystaat Landbou het ook al oor reaksie op die onteieningswet en die onregverdige verspreiding van risiko en wins in die waardekettings met Agri-SA oorhoops gelê. Nou het die Vrystaatse boere hulle hakke ingekap en hulle ledegeld aan Agri-SA weerhou. Boereverenigings in die Oos-Kaap, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal het ook al belangstelling getoon om by Vrystaat Landbou in te val omdat hulle hulself beter belyn voel met die standpunte en beleidsposisies wat sy leiers verwoord.
Anders as wat akademici soos Kirsten en Sihlobo in hulle boek "The Uncomfortable Truth about Agriculture in South Africa" probeer weergee, het hierdie verskille niks met persoonlikhede, ongesonde ambisie of kompetisie tussen individuele leiers te doen nie. Die boere is ’n diverse gemeenskap in Suid-Afrika, en eenheid in landbou is ’n hersenskim. Boere deel nie almal dieselfde belange, waardes of basiese behoeftes nie. Ons het ’n veelheid van landbou-organisasies omdat hulle verskillende, en soms selfs teenstrydige belange en waardes verteenwoordig.
Al die mees omstrede kwessies in die hedendaagse landbou-omgewing sny dieper as persoonlike belange en is ingebed in bewese teenstrydige mandate. Agri-SA, Graan-SA, RPO, RMIS en Agbiz het mandate van hulle lede gehad om die Landbou- en Landbouverwerkingsmeesterplan (AAMP) af te teken en druk voortdurend dat dit meer aggressief geïmplementeer moet word. Saai, TLU-SA, NEASA, LWO en WRSA, wat by die onderhandelinge oor die meesterplan uitgesluit was, se beswaar daarteen is dat transformasie 92 keer in die dokument hanteer word, maar daar geen verwysing na die winsgewendheid of volhoubaarheid van plase is nie. Vier jaar se spanning en drie omvattende vergaderings om te kyk of daar wedersydse begrip en gemeenskaplike belange gevind kan word, kon nog nie tot die wysiging van ’n enkele woord lei nie. Nie een van die twee kante kan op hulle mandate bes gee nie.
’n Soortgelyke spanning is opgebou tussen dieselfde groepe organisasies oor Minister Steenhuisen se publikasie van nuwe regulasies oor vleisanaloë, en die buitengewone regte wat aan plantgebaseerde, insekgebaseerde en laboratoriumgekweekte alternatiewe vir vleisprodukte gegee is. Hoewel Saai en die DA in ernstige beleidsgesprekke daaroor betrokke geraak het, het Steenhuisen tereg daarop gewys dat die RPO as grootste stem vir vleisboere op die regulasies afgeteken het. Saai se lede in die rooivleisbedryf het ’n teenoorgestelde mandaat gegee, en voel baie sterk dat vals vleis op dieselfde rakke, en met dieselfde name as vleisprodukte nie in hulle belang is nie, en met mening bestry moet word.
Vrystaat Landbou het ’n eie provinsiale rooivleisforum gestig wat in beleid en aksieplanne nader aan hulle eie waardes en belange geposisioneer is.
Niks het die belangebotsings duideliker na die oppervlakte gedryf as die hofsaak teen sentrale staatsbeheer oor die Bek-en-Klouseer-inentingsveldtog nie. Die lede van Agri-SA en sy affiliasies het almal op 29 Januarie 2026 op skrif hulle mandate ten gunste van sentrale staatsbeheer gegee, buiten Vrystaat Landbou en Agri-NW. Agri-SA het by die Vrystaat Landbou-kongres verduidelik dat daar geen ander uitweg was as om hom van sy Vrystaatse boere te distansieer nie. Eweneens kon die leiers van Vrystaat Landbou nie buite hulle mandaat ’n staatsmonopolie op alle fasette van die inentingsprogram ondersteun nie.
Hoe gemaak as jy in een organisasie boere met botsende strewes, belange en waardes het?
Dieselfde het in 2018 in Agri-Limpopo gebeur toe elke individuele lid sy mandaat vir ’n hofsaak teen die onteiening van die plaas Akkerland gegee het, maar Agri-SA dit nie kon ondersteun nie. Selfs nadat Agri-Limpopo met die hulp van AfriForum en Solidariteit die saak gewen het, is die president en Hoof Uitvoerende Beampte geteiken en uitgewerk, waaruit Saai uiteindelik tot stand gekom het. Die rasionaal was dat kommersiële boere wat nie polities gekonnekteer is nie, ’n struktuur nodig het waaroor hulle nie hoef te wonder of daar kollektief in hulle belange teen die staat opgetree sal word nie.
Onderliggend aan die beleidsverskille tussen landbou-organisasies lê ’n ideologiese vertrekpunt. Hoewel dit in die openbare domein dikwels in bar etiketterende skeltaal uitgedruk word, soos "regses en linkses", "pro- en anti-ANC", "AfriMaga en woke" of "rassiste en staatstropers", is dit iets anders. Dit gaan waarskynlik ten diepste eerder oor ’n spanning tussen konserwatiewe boere (en in haas elke samelewing is boere die meer konserwatiewe deel daarvan) wat groter klem op plaaslik gewortelde tradisionele waardes lê, en dié wat sin in ’n globalistiese, meer algemene identiteit vind waar oorhoofse strukture soos die staat, multinasionale en multilaterale strukture beheer neem en die algemene rigting, beginsels en pas bepaal.
Boere is in wese meer onafhanklike mense wat vir hulleself dink en kritiese vrae vra. Dit is nie altyd die kultuur in korporatiewe maatskappye nie. Wanneer groot maatskappye, banke, insetverskaffers en koöperasies saam met boere in een organisasie sit en gemeenskaplike beleid formuleer, is dit nooit die boere se stem wat deurkom nie. Groot maatskappye het nie ’n erfenis of tradisionele waardes nie. Hulle het direksies, aandeelhouers en doelwitte vir dividende aan die einde van die volgende finansiële jaar.
Niemand kon tot dusver antwoord hoe die Wette op Gelyke Indiensneming en Swart Ekonomiese Bemagtiging op ’n familieplaas toegepas moet word nie. Vir groot maatskappye maak dit nie saak nie – hulle voeg dit bloot as ’n klein lastigheid op die salarisbegroting. In ’n klein of mediumgrootte familieboerdery kan dit nie bekostig word nie!
In praktiese terme lê die lyn tussen die hoofgroepe landbou-organisasies die duidelikste tussen dié wat ’n mandaat het om die dominante transformasienarratief wat die afgelope drie dekades ons ekonomiese en sosiale omgewing oorheers het, te bevorder en te beskerm, en dié wat daarteen skrum. Die polities korrektes en dié wat uit pas is.
Die duidelikheid van hierdie lyn vind neerslag in die AAMP, in organisasies se ondersteuning van sentrale staatsbeheer in die verkryging van entstof, in die ondertekening van regulasies wat nie in die uiterste strek van verbeelding in boere se belang kan wees nie, en in die omarming van eregaste, sprekers, toekennings en temas by prestigegeleenthede. As ’n sake-organisasie se kongres met die tema "Samewerking" deur iemand uit die hart van kaderontplooiing toegespreek word, maar geen sakeman genooi word wat oor eiendomsreg, plaasveiligheid of kwotas by indiensneming ’n sterk standpunt inneem nie, stuur dit ’n boodskap. As ’n provinsiale landbou-unie sy sprekers uit die groep van 44 alternatiewe Afrikaners kies, gaan die kongres nie besluit om moue op te rol om Sol-Tech of Akademia te versterk nie. Die NWKV en Agri-SA sal News24 se joernaliste trakteer, terwyl Saai eerder Maroela Media sal ondersteun. Andersom is dit ondenkbaar! Die mandate is botsend, want die belange en waardes is dikwels teenoorgesteld.
Dit is die gegewe. Francois Wilken het by Vrystaat Landbou se kongres gesê: "Ons deel nie almal dieselfde werklikheid nie." Dit is onsinnig om mekaar se werklikhede te misken, te ignoreer of te kanselleer, en te verkleineer. Die praktyk het al daardie benaderings teenproduktief bewys. Met die formulering van die landboumeesterplan was die strategie om alle teenspraak teen ’n streng rasgebaseerde transformasie-ideologie eenvoudig uit te sluit, buiten TLU-SA wat van die kommunikasie- en uitnodigingslyste verwyder is toe hulle op ’n definisie vir "transformasie" aangedring het.
Dieselfde strategie is van die Didiza- na die Steenhuisen-era oorgedra toe dieselfde organisasies by die gesprekke oor vleisanaloë en die Bek-en-Klouseer-industriekoördineringskomitee uitgesluit is. Slegs TLU-SA se stem klink gereeld krities op teen die narratief van sentrale staatsbeheer, gefokusde ondersteuning aan die Departement van Landbou en belyning met die doelwitte en metodiek van besluitnemende staatsamptenare.
Minister Willie Aucamp verteenwoordig ’n welkome breek met hierdie polariserende strategie. Hy verwerp nie enige van die belangegroepe nie, sluit niemand uit nie en tree nie op asof daardie stemme nie bestaan of geldig is nie. Hy betrek almal en dwing die gesprek af. Hy roep die ronde tafel. Organisasies wat kerm dat hulle by die skikkingsonderhandelinge oor Bek-en-Klouseer-inentings uitgesluit was, was nie partye tot die hofsaak nie, en die meeste het trouens harder teen die hofsaak standpunt ingeneem as die respondente self!
Maar vir die eerste keer in dekades roep die landbouminister inklusiewe gesprekke waar die verskille gedefinieer kan word, beleidstandpunte en mandate in die oopte gebring kan word, en daar vir konsensuspunte gemyn kan word. Vir die eerste keer in baie jare kan gemeenskaplike belange tussen die verskille uitgesif word om aktief daaroor saam te werk al verskil ons op ander gebiede.
Al beweeg ons stadiger, laat ons nie die kleiner en mediumgrootte familieboerderye agter nie. Al raak die gesprekke warm, is dit nie net groot besighede se belange wat seëvier nie. Soos in die Regering van Nasionale Eenheid, maak kleiner stemme ook saak. Die verskeidenheid van standpunte en belange moet gehoor word, want ons boere is nie almal dieselfde nie.
Elke boer moet self kan kies waar hy hom skaar, en weet dat hy daar getel kan word.
