SAAI, AfriForum, die Batlharo Ba Ga Motlhware Tradisionele Raad en die NHTKL.

SAAI, AfriForum, die Batlharo Ba Ga Motlhware Tradisionele Raad en die NHTKL.

June 19, 2026

Lêhoenderprojek deur Interkulturele Vennootskap van stapel gestuur.

’n Gesamentlike lêhoenderprojek is vandag in Batlharos, hoofsetel van die Batlharo Ba Ga Motlhware-kultuurgemeenskap noord van Kuruman in die Noord-Kaap, van stapel gestuur. Naas die verskaffing van ’n aanvangspakket wat Boschveldhoenderkuikens, ’n hoenderhok en toebehore insluit, is opleiding in hoenderboerdery aan gemeenskapslede gebied. AfriForum en die Batlharo Ba Ga Motlhware-kultuurgemeenskap het ook ’n wedersydse erkennings-en-samewerkingsooreenkoms tydens die geleentheid onderteken.

Dié landbou-ontwikkelingsprojek word aangepak deur die Batlharo Ba Ga Motlhware Tradisionele Raad in samewerking met Saai en AfriForum. Dit word deur middel van dié twee organisasies se landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN) moontlik gemaak en dien as uitvloeisel van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers (NHTKL) se tweede jaarlikse Lenaka-gedenklesing wat in November 2025 in Batlharos gehou is.

“Hierdie projek sal voedselsekerheid binne ons gemeenskap versterk deur gemeenskapslede se toegang tot bekostigbare, proteïenryke kos te verbeter. Dit skep ook die geleentheid om kennis oor die landboubedryf op te doen en ’n volhoubare inkomste te verseker wat tot voordeel van ons gemeenskap aangewend kan word. Dit is vir ons ’n voorreg om met rolspelers saam te werk wat ’n positiewe verskil op voetsoolvlak wil maak,” sê Kgosi Pelonomi Toto, Kgosi van die Batlharo Ba Ga Motlhware en voorsitter van die Batlharo Ba Ga Motlhware Tradisionele Raad.

“Die jaarlikse Lenaka-lesing skep ’n platform om ons ryke erfenis te vier terwyl dit inklusiewe sosio-ekonomiese ontwikkeling binne tradisionele gemeenskappe bevorder. Ons benadering is om vennootskappe te versterk, institusionele kapasiteit te verbeter en geleenthede vir volhoubare groei te ontsluit. Dit is bemoedigend dat hierdie inisiatief weereens tot die vestiging van ’n projek gelei het wat die potensiaal het om ’n blywende en positiewe nalatenskap te laat vir hierdie landelike gemeenskap,” sê Kgosi Thabo Seatlholo, voorsitter van die NHTKL.

“Dit is ’n groot voorreg vir AfriForum om ’n vennoot van die Batlharo Ba Ga Motlhware en die NHTKL in hierdie inisiatief te wees. Dit dien as bewys dat ’n mooi toekoms vir die kinders van die land moontlik is wanneer kultuurgemeenskappe op grond van wedersydse erkenning en respek saamwerk om gemeenskappe in staat te stel om hul lewensomstandighede te verbeter en meer selfstandig te word. Ons is dankbaar vir die ondersteuning van KLK Landbou, wat die projek help moontlik maak,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“Voedselsekerheid in landelike gebiede bly ’n groot uitdaging. Die beste manier om dit aan te spreek, en ook terselfdertyd welvaart te skep, is om mense wat die wil en die potensiaal het met die regte ondersteuning in staat te stel om uiteindelik kommersieel te kan produseer. Ons is dankbaar vir die geleentheid om deel van hierdie projek te wees wat landelike gemeenskapslede help bemagtig om wanvoeding te bekamp en ’n lewensbestaan deur landbou te maak,” sê dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai.

“’n Mens kan maklik deur die groot uitdagings wat die land in die gesig staar lam gelê word en dan niks doen nie. Hierdie nederige projek wys egter dat gemeenskappe en leiers kan kies om saam te werk om die lewe van gemeenskappe op voetsoolvlak te verbeter. Die positiewe impak van elke klein projek tel op om uiteindelik ons samelewing oor die algemeen te verbeter. Ons hoop dat die voortgesette samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe, waarvan dié projek die jongste voorbeeld is, ook ander rolspelers in die privaat- en openbare sektor sal inspireer om by volhoubare gemeenskapsontwikkeling betrokke te raak,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Dr Theo de Jager
Direksievoorsitter
Kgosi Pelonomi Toto
Voorsitter

Batlharo Ba Ga Motlhware Traditional Council

Barend P. Uys
Hoof: Interkulturele verhoudings en samewerking
Kgosi Thabo Seatlholo
Voorsitter

National House of Traditional and Khoi-San Leaders

Galery

No items found.