
MEDIAVERKLARING
Saai doen ’n beroep op die Regering van Nasionale Eenheid om Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) te privatiseer. OBP is ’n dieregesondheids- en entstofvervaardigingsmaatskappy wat geheel en al aan die staat behoort, maar waarvan ’n gebrek aan doeltreffendheid en mededingendheid sekere afdelings van die veebedryf in Suid-Afrika lamlê.
Vir meer as twee dekades is OBP nie meer die instelling van uitnemendheid wat eens onskatbare waarde tot die veebedryf toegevoeg het nie. Uitgediende ideologie, rasgedrewe aanstellings, magspel en kleinlike partypolitieke oorwegings het die wetenskap verdring, en navorsing, dienslewering en selfs basiese instandhouding het in die slag gebly.
OBP het vir dieregesondheid geword wat die Poskantoor vir kommunikasie en pakkie-aflewering geword het, wat Denel vir die wapenbedryf geword het en wat staatshospitale vir openbare gesondheidsorg geword het – en om dieselfde redes. ’n Geprivatiseerde OBP kan weer topwetenskaplikes op grond van hul kwalifikasies, kundigheid, vermoëns en bewese prestasierekord, eerder as politieke gedienstigheid, aanstel; kapitaal lok wat in infrastruktuur, toerusting en navorsing belê word en nie onverklaarbaar verdwyn nie; en vir boere ’n hupstoot eerder as ’n struikelblok wees.
Veeartse en wetenskaplikes het reeds in 2007 gewaarsku dat OBP dermate agteruitgaan dat dit nie meer aan sy doel en funksies kan voldoen nie. As instelling kon dit nie meer ingevolge wetgewing en regulasies sy rol behoorlik vervul nie. In antwoord daarop het die Parlement R480 miljoen bewillig om OBP in stand te hou en op te gradeer.
Daardie geld het weggeraak. Dit is nou nog soek. OBP se opgradering en instandhouding het vasgesteek. Daar was geen gevolge vir enige bestuurder of direkteur nie.
Dat OBP sy missie en verantwoordelikheid teenoor Suid-Afrika se boere sou versaak en die landbousektor in die steek sou laat, was reeds in 2013 ’n gegewe. Een ná die ander het die vervaardiging van entstowwe agtergeraak of tot stilstand gekom.
Van die 24 belangrikste vee-entstowwe wat OBP versprei, voorsien dit slegs in ongeveer 40% van die mark se behoefte.
Perde-eienaars het ’n regsplig om elke jaar hul diere teen perdesiekte in te ent, maar OBP vervaardig lankal nie meer genoeg entstof daarvoor nie. Vandeesweek het OBP, ná dringende bestellings, perdesiekte-entstof versprei wat reeds verval het, en geen veearts is bereid om dit af te teken nie. Die perdebedryf is aan OBP se onvermoë uitgelewer, en daar is geen alternatief nie.
Niks het die verval en oorbodigheid van OBP sterker beklemtoon as die huidige bek-en-klouseeruitbraak nie. OBP het nie die entstof in voorraad gehad om die uitbraak in sy beginstadium te bekamp nie en kon dit ook nie vervaardig nie. Tot vandag toe kan OBP nie meer as 20 000 dosisse per maand vervaardig nie. Dit is slegs 0,5% van ons jaarlikse behoefte!
Die plaaslike virusstamme is, onder groot druk uit die bedryf, nege maande laat na die Pirbright-verwysingslaboratorium in Engeland gestuur, kwansuis omdat OBP Suid-Afrika se intellektuele eiendomsreg op bek-en-klouseer-entstof wou beskerm. Wat wil Suid-Afrika se boere met intellektuele eiendomsreg maak as ons nie meer ’n beesbedryf oor het nie? Daardie verlore nege maande het die rooivleis- en melkbedrywe miljarde rande se skade berokken.
Die staat behoort onverwyld die reg om OBP se entstowwe op groot skaal te vervaardig aan die privaat sektor uit te kontrakteer. Daar kan dit goedkoper, vinniger en doeltreffender aan veeboere gelewer word.
In Januarie 2025 het OBP deur brute intimidasie die plaaslike agentskap vir die invoer van Biogénesis Bagó se entstof uit Argentinië uit die hande van die Centurion-gebaseerde Design Biologix gekaap. Sedertdien is alle entstof wat ingevoer is – ook dié uit Turkye – deur OBP opgeraap en is ’n staatsmonopolie geskep, waarteen Saai, Sakeliga en Vrystaat Landbou ’n regsgeding aanhangig gemaak en gewen het.
In skikkingsonderhandelinge voordat die interim-hofbevel permanent gemaak is, het minister Willie Aucamp ’n sterk standpunt ingeneem dat die staat geen eksklusiewe regte op die invoer, verspreiding of toediening van entstof sal behou nie en geen wins uit die krisis sal maak nie. OBP was ’n party tot die hofsaak en die skikking en het met die minister saamgestem. OBP het in elk geval geen waarde toegevoeg nie, nie behoorlik beheer daaroor uitgeoefen nie – daar is vrae oor wat van ongeveer ses miljoen dosisse geword het, waarop daar tot dusver geen bevredigende antwoorde gegee kon word nie – en het hoogstens koste verhoog en tyd vermors met die hantering daarvan.
Dit het gevolg op maande se verwarring en ’n verwoede stryd oor die prys waarteen OBP entstof aan die staat, die Departement van Landbou en provinsies beskikbaar gestel het. Dit het gewissel tussen R71 per dosis en R300 per grootvee-eenheid per jaar vir twee inentings. Hoewel bedryfsorganisasies en bedryfsdiensverskaffers geen probleme daarmee geopper het nie, het dit tot groot spanning tussen Saai en die destydse minister John Steenhuisen gelei, wat vrae daaroor as “disinformasie” en kwaadstokery afgemaak het.
Die voorlopige skorsing van dr. Jacob Madumo, uitvoerende hoof van OBP, oor beweerde prysmanipulasie en onregmatige winsneming kom dus as geen verrassing nie en is wyd deur boere verwelkom. ’n Deurtastende ondersoek na die pryse in intrastaatlike transaksies, die pryse wat OBP vir die Biogénesis-entstof gefaktureer het en die strukturering van begunstigdes wat uit dié transaksies voordeel getrek het, moet nou volg. Waar daar bevind word dat OBP geheime of onregmatige winste gemaak het, moet dié geld verhaal en in ’n fonds gestort word waaruit die finansiële las van bek-en-klouseer op boere verlig kan word.
OBP is al jare lank meer van ’n las as ’n oplossing. Dit gaan baie jare en miljarde rande kos om OBP reg te ruk – tyd en geld wat Suid-Afrika en sy veeboere nie het nie.
Daarom vra Saai dat OBP geprivatiseer word!
