
Saai verwelkom die streng dissiplinêre optrede teen Jacob Madumo, uitvoerende hoof van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), asook die gepaardgaande ondersoek na die beweerde manipulering van die pryse van bek-en-klouseer-entstowwe.
Dit is hoog tyd dat ’n deurtastende ondersoek gedoen word na moontlike onregmatige winsneming deur transaksies tussen staatsentiteite, staatsondernemings en nasionale en provinsiale staatsdepartemente.
Boere verwag dat daar teen besluitnemers binne die staat opgetree word waar wangedrag vasgestel word, en dat enige winste wat bevind word onregmatig verkry te wees, verhaal en aangewend word om die enorme finansiële impak van die bek-en-klouseerkrisis op boere te help verlig.
Verskeie DA-ministers het kort ná hul aanstelling reeds daadwerklik opgetree om hul departemente reg te ruk en korrupte of wanpresterende senior amptenare tot verantwoording te roep. Hierdie is die eerste betekenisvolle optrede van dié aard binne die landbou-omgewing, en boere verwelkom dit dat minister Willie Aucamp duidelike beginsels stel, daarby hou en optree wanneer dié beginsels oortree word. Jacob Madumo sal hopelik nie die laaste amptenaar wees wat onder die vergrootglas kom waar daar gronde vir ondersoek bestaan nie.
Madumo was betrokke by die skikkingsonderhandelinge ná die hofsaak teen gesentraliseerde staatsbeheer oor besluitneming en die hantering van bek-en-klouseer-entstowwe. Dié onderhandelinge het tot ’n ooreenkoms gelei waarvolgens die staat sy monopolie op die invoer, verspreiding en toediening van entstowwe sou laat vaar.
Boere was van meet af aan bekommerd oor die enkelkanaal-invoer van Biogénesis Bagó se entstof deur OBP, ’n staatsonderneming, en die moontlike implikasies daarvan vir entstofpryse. Die wyse waarop Design Biologix se agentskapsooreenkoms met Biogénesis Bagó beëindig en daarna deur OBP oorgeneem is, laat steeds ’n wrang smaak in die veebedryf.
Die staat se wisselende uitsprake oor entstofpryse het reeds teen die einde van 2025 ongemaklike vrae onder boere laat ontstaan. Aan die einde van Desember het die Departement aangedui dat boere hulself op koste van ongeveer R300 per dier per jaar moet voorberei. In Januarie 2026 het die Departement gesê dat entstof R86 per dosis kos, terwyl antwoorde op verskeie parlementêre vrae aangedui het dat die koste tussen R71 en R96 per dosis wissel.
Design Biologix en Dunevax het egter reeds in Januarie hul pryse bekendgemaak: tussen R45 en R55 per dosis, afgelewer enige plek in Suid-Afrika.
Toe Saai op hierdie prysverskille wys en vra of OBP uit die bek-en-klouseerkrisis wins maak, het die destydse minister van landbou, John Steenhuisen, die kommer as “disinformasie” afgemaak en na Saai se direksievoorsitter as die “mischief maker in chief” verwys. Ten spyte van die beduidende verskille tussen die onderskeie bedrae, is daar destyds geen ondersoek geloods nie.
Willie Aucamp het reeds in sy eerste week ná sy aanstelling as minister van landbou duidelik gemaak dat hy geen winsbejag deur staatsinstellings sal duld nie – ’n beginsel waartoe OBP hom ook verbind het. Hy het die nodige vrae begin vra en op oënskynlike ongerymdhede in die transaksies afgekom, terwyl sommige van die antwoorde nie met die beskikbare inligting geklop het nie. Hy het die inligting nagegaan, optrede geïdentifiseer wat verdere ondersoek regverdig en opgetree.
Boere hoop dat die gevolge vir amptenare wat by wangedrag betrek word, ’n sterk boodskap deur die staat sal stuur dat korrupsie, samespanning en onregmatige winsneming uit rampbestuur nie geduld sal word nie.
Niemand dra groter verliese weens die bek-en-klouseerkrisis as boere nie. Dit is nóg billik nóg volhoubaar dat boere alleen die rekening vir Suid-Afrika se stryd teen bek-en-klouseer moet betaal. Dit is onaanvaarbaar dat abattoirs en voerkrale die risiko’s en koste wat met die krisis gepaardgaan, op boere afskuif.
Dit is selfs meer verwerplik indien staatsinstellings, of diegene wat uit hul besluite voordeel trek, boere tydens ’n nasionale dieregesondheidskrisis probeer uitbuit.
