Saai is diep bekommerd oor uitbrake van veesiektes

Saai is diep bekommerd oor uitbrake van veesiektes

June 3, 2025

Die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal, en die daaropvolgende verspreiding daarvan na sommige van die grootste voerkrale in Suid-Afrika, is ’n ramp van onmeetbare omvang vir beesboere. As boere nie hul vee op veilings, aan voerkrale of slagpale kan verkoop nie, het die boerdery – en daardie gesin – geen inkomste nie.

Saai het reeds sedert Desember 2024 met die Departement van Landbou in verbinding getree toe die eerste gerugte van bek-en-klouseer begin opduik het. Dit het egter maande geneem voordat die uitbreking amptelik verklaar is en hulpbronne gemobiliseer is om dit te bekamp.

Boere rapporteer sedertdien dat vee daagliks op trokke of sleepwaens vervoer word na veilings, veral in die Mpumalanga Hoëveld. As die staat nie die verskuiwing van vee uit besmette gebiede effektief kan beheer nie, is suksesvolle vleis- en melkproduksie eenvoudig nie meer moontlik nie.

Saai is veral bekommerd oor die groot aantal boere wat finansieel knyp trek omdat hulle nie hul vee kan bemark nie. Daar is min wat hulle self daaraan kan doen.

Die krisis het sy oorsprong by die staat. Die Departement van Landbou, wat deur plaaslike private veeartse ondersteun word, moet onmiddellik by die waarneming van simptome optree, die besmette gebied identifiseer en afsper. Versuim om tydig op te tree, verseker verdere verspreiding van die siekte en rig vernietigende skade aan die beesbedryf aan.

Effektiewe optrede vereis noue samewerking tussen die departement en Onderstepoort Biologiese Produkte (wat entstowwe vervaardig), staats- en private veeartse, polisie- en verkeersdienste, private sekuriteit, en georganiseerde landbou – wat die skakeling met boere en ander rolspelers in die waardeketting fasiliteer.

Op hierdie terrein faal die departement.

Boere moet reeds meeding teen produsente in buurlande waar wetstoepassing en beheermaatreëls beter is, en teen boere in Europa en elders wat staatsubsidies en -ondersteuning geniet. Die ontwrigting van die waardeketting en marktoegang is vir baie plaaslikke produsente ’n nekslag.

Boere meen die probleem spruit uit ’n gebrek aan politieke wil, swak leierskap, onbevoegde amptenare en die onvermoë om bekwame mense in sleutelposte aan te stel sodat doeltreffende dienste gelewer kan word.

Produsente is egter nie die enigste slagoffers nie. Verbruikers gaan waarskynlik meer vir vleis betaal. Die prys van supers het reeds tot R75/kg (karkasgewig) gestyg. Boere in die vergrote besmette gebied sal ongelukkig geen voordeel uit die hoër pryse trek nie, omdat hulle nie hul vee mag verkoop nie.

Die ondersoek na grootskaalse korrupsie by Onderstepoort Biologiese Produkte, wat verlede jaar aangekondig is, toon geen vordering nie.

Aan die kern van die probleem lê die afwesigheid van gevolge. Oortreders, asook amptenare wat deur hul versuim onmeetbare skade aanrig, word nie aanspreeklik gehou nie. Ook is daar geen rekenskap vir die honderde miljoene rande wat aan entstofontwikkeling en -produksie bestee moes word nie.

Saai is ook bekommerd oor die departement se gereedheid om ’n voëlgriepuitbraak te hanteer.

Suid-Afrika het nie noodwendig meer wetgewing, reëls of regulasies nodig nie. Ons het ’n Landboudepartement nodig wat wette toepas en die landboubedryf aktief beskerm.

Dr Theo de Jager
Board Chair