Saai Reageer op Minister John Steenhuisen se Bek-en-Klouseer-Aankondigings

Saai Reageer op Minister John Steenhuisen se Bek-en-Klouseer-Aankondigings

January 14, 2026

Die familieboer-organisasie Saai het vandag sy ernstige kommer en teleurstelling uitgespreek na aanleiding van Minister John Steenhuisen se mediakonferensie oor die bek-en-klouseer-krisis. Volgens Saai het die konferensie nie die nodige oplossings gebied vir boere wat tans in ’n oorlewingskrisis verkeer nie en laat dit meer vrae as antwoorde. Boere het fermer, meer kragdadige, duidelike en praktiese optrede verwag om hul boerderye weer op dreef te kry en sekerheid te verkry oor hoe die nasionale bekampingstrategie uitgerol gaan word.

Die omvang van die krisis is duidelik groter as wat die Departement van Landbou besef of die kapasiteit het om te bestuur. Vertroue in die departement onder boere is tans uiters laag. Daar word van die bedryf verwag om te glo dat dieselfde amptenare wat die krisis veroorsaak het, hulle nou daaruit moet lei. Verder is daar nog geen aanduiding van gevolge vir amptenare wat versuim het om oor die integriteit van bekampingsmaatreëls te waak of om die beskikbaarheid van entstowwe te verseker nie.

Wat entstowwe betref, is die aankondiging dat voorraad in die toekoms ook van Brasilië en Turkye aangekoop sal word as goeie nuus verwelkom. Suid-Afrika benodig egter op die kort termyn soveel voorraad as moontlik. Saai waarsku dat indien die staat nie dringend sy kapasiteit om plaaslik ontwikkelde entstowwe te vervaardig aanvul deur dit na private laboratoriums uit te kontrakteer nie, die organisasie genoodsaak sal wees om die staat deur regsaksie daartoe te verplig.

Saai verwelkom die versoek om die bek-en-klouseer-uitbraak as ’n nasionale ramp te verklaar, maar wys op ernstige tekortkominge in die huidige benadering. Die gebrek aan ’n strategie vir rondloperbeeste in informele nedersettings en kommunale gebiede, tesame met die ineenstorting van wetstoepassing en infrastruktuur rakende die skut van vee, ondermyn die geloofwaardigheid van die nasionale strategie.

Boere het die volgende twaalf kernvereistes vir die minister uiteengesit:

  1. ’n Duidelike plan vir finansiële bystand aan geaffekteerde boere om te oorleef terwyl hul boerderye lamgelê word.
  2. Inligting oor hoe die nasionale ramptoestand ’n daadwerklike verskil sal maak aan die suiwel-, rooivleis- en varkbedrywe.
  3. Die uitvaardiging van noodregulasies om meer as net departementele hulpbronne te mobiliseer.
  4. ’n Eenvormige bestekopname van mannekrag, voertuie, toerusting en entstof in elke distrik vir doeltreffende aanwending.
  5. Die strukturering van ’n vennootskap tussen die staat en die privaat sektor om alle belanghebbendes op dieselfde bladsy te kry.
  6. ’n Duidelike proses in elke provinsie en distrik vir kommunikasie, logistiek en uitvoering.
  7. ’n Volledige hulpbronplan en begroting waarin veeboere self ’n aktiewe rol speel.
  8. Groter buigsaamheid om entstofproduksie buite staatslaboratoriums na die privaat sektor uit te brei om uitset eksponensieel te vergroot.
  9. Erkenning van boere se kapasiteit om self hul vee te ent en rekord daarvan te hou om tyd en koste te bespaar.
  10. Meer inligting oor beplande rekordhouding- en moniteringsstelsels.
  11. ’n Behoorlike kommunikasiestelsel om die frustrasie van boere wat in die duister gelaat word, aan te spreek.
  12. ’n Hersienings- en afwerkingsplan om gapings in die nasionale inentingsveldtog te voorkom.

Saai verwerp Minister Steenhuisen se aantygings dat landbou-organisasies disinformasie versprei of die krisis vir ledewerwing gebruik. Sulke uitlatings toon hoe uit voeling die minister met die realiteit op grondvlak is. Organisasies wat kritiese vrae vra, doen dit omdat boere verstaan dat die staat nie die kapasiteit het om hulle sonder hulp uit hierdie krisis te lei nie.

Ten slotte vind Saai dit onvanpas dat die minister organisasies soos die Melkprodusente-organisasie (MPO) kritiseer omdat hulle die hof genader het vir beter toegang tot entstof. Dit was juis hierdie druk wat die departement na meer as ’n jaar gedwing het om sy verkrygingsfokus wyer as net Botswana te stel.

Francois Rossouw
CEO
Dr Theo de Jager
Board Chair