
Die Departement van Landbou se swart ekonomiese bemagtigingsvereistes (SEB) vir boere se aansoeke om vars produkte onder die ekonomiese vennootskapsooreenkoms met die Verenigde Koninkryk (VK) en Ierland uit te voer, en die Mededingingskommissie se verslag oor mededingendheid op varsproduktemarkte, skep uiterste onsekerheid en verwarring onder boere en het ’n verdoemende impak op voedselsekerheid.
Die departement se SEB-vereistes is uiters skadelik, ongrondwetlik en teenstrydig met internasionale handelsooreenkomste. Saai skakel met die Wêreldhandelorganisasie (WHO) om die regerings, wat partye tot die ooreenkoms is, van die inhoud van die WHO se reëls ten opsigte van rassediskriminasie en die Universele Verklaring van Menseregte bewus te maak. Verdere klagtes kan hieruit voortspruit.
Die departement het kortpaaie geneem met ’n openbare konsultasieproses en boere verdink hulle daarvan dat hulle nie kans sien om die mees basiese vrae oor die SEB-vereistes te beantwoord nie. Dit sluit in vrae soos:
Dié departement het reeds in 2013 kortpaaie gevat toe die SEB-handvesraad versuim het om ’n sewe jaar lange dispuut oor SEB-vereistes op grondeise-plase op te klaar. Die raad was dit eens dat plase wat grondeise op het, moeilik swart beleggers kan lok wat nie deel van die eisersgemeenskap is nie en dus van SEB-vereistes vrygestel moet word. Hulle versuim skep ’n onmoontlike situasie vir geaffekteerde boere.
Die raad sou ook klarigheid gee van wat presies in terme van SEB-vereistes van ’n familieboerdery verwag word. Moet private verhoudinge gemanipuleer word, moet wit boere minder produseer en indien wel, hoeveel minder? Of moet swart boere se produkte op markte voorkeur kry bo wit boere se produkte?
Nóg die raad, nóg die departement of die minister het op vrae hieroor gereageer.
Suid-Afrika is vir dekades al ’n netto-uitvoerder van kos, maar dié voedselsekerheidstatus is nie gewaarborg nie.
Elke oes wat ’n boer insit is ’n hoë-risiko belegging. Die departement se SEB-vereistes toon dat hulle geen begrip vir die voorwaardes en uitdagings van landboubeleggings het nie. Beleggers soek sekerheid en deursigtigheid en die departement skep met sy SEB-vereistes juis onsekerheid en verwarring.
Die Mededingingskommissie se verslag oor toegang tot varsproduktemarkte vererger dit en spreek van ’n fundamentele gebrek aan begrip vir die werking van agentskappe op varsproduktemarkte. Dit is ’n unieke omgewing waar ’n eerste toetreder tot landbou, wat groente of vrugte in sy tuin produseer, op dieselfde dag met die heel grootste megaboer op ’n gelyke vlak kan kompeteer.
Kopers van vars produkte oorweeg kwaliteit en prys, en nie die ras, geslag of ouderdom van die produsent nie.
Die kommissie moes ’n span ekonomiese kundiges aangestel het om die verslag op te stel, en nie ’n span rasbehepte politieke aktiviste nie.
Die voorstelle van die Mededingingskommissie sal juis ’n onmededingende omgewing skep!
Suid-Afrika kan nie bekostig om met voedselsekerheid te dobbel nie.
