Bek-en-Klouseer Noodsaak Nou ’n Streeksbenadering

Bek-en-Klouseer Noodsaak Nou ’n Streeksbenadering

February 27, 2026

Met die eerste bevestigde uitbreking van bek-en-klouseer in Lesotho is daar nie meer ’n realistiese alternatief as ’n streeksbenadering tot die bekamping van die siekte nie.

Behalwe Namibië is daar tans geen ander land wat aan Suid-Afrika grens waar uitbrekings buite beheerde gebiede nie bevestig is nie. Namibië en Botswana volg streng, gedissiplineerde protokolle om hul rooivleisuitvoerstatus te beskerm, maar die beweging van vee oor grense, sowel as binnelands vanuit geaffekteerde distrikte na die res van die streek, word swak beheer.

Selfs al is die kombersinentingsprogram wat Suid-Afrika nou aangekondig het suksesvol, sal die uitgawes en die moeite daaraan verbonde vergeefs wees indien daar nie gelyklopende naspeurbaarheidsprogramme en konsekwente bewegingsbeheer toegepas word nie.

Die volgehoue, swak beheerde beweging van vee oor die Lesotho-grens, veral binne die konteks van die veediefstalprobleem wat reeds langer as twee dekades groot verliese in die Oos-Vrystaat veroorsaak, het noodwendig tot die uitbraak van bek-en-klouseer in Lesotho bygedra.

“Struktuur volg op strategie,” en die grootste uitdaging in die bekamping van bek-en-klouseer bly die duidelike toewysing van verantwoordelikheid en aanspreeklikheid binne multilaterale en multisektorale programme. Daar moet nuut gedink word oor die strukture waarbinne daar oor landsgrense heen, en ook binnelands tussen verskillende sektore van vee-eienaars en sakeondernemings, ooreengekom word hoe die siekte prakties uitgeroei moet word.

Om die probleem eenvoudig aan SADC oor te laat, kan katastrofies wees. SADC het nog nooit met die implementering van streeksbeleid beïndruk nie. SADC kon in 14 jaar nog nie eens sy tribunaal in Windhoek weer operasioneel kry nie, al het grondwetlike howe in verskeie lidlande reeds beslis dat die versuim om regters aan te stel onregmatig is. ’n Burgerlike inisiatief van boere, veeartse en ondernemings in die vleis- en melkwaardekettings, wat deur regerings befonds, ondersteun en gemonitor word, het ’n beter kans op sukses.

Ook plaaslik in Suid-Afrika is die strukture om die entingsprogram uit te rol gebrekkig. Die staat het nie die nodige kapasiteit of kundigheid nie, en is direk vir die uitbreking en verspreiding van die siekte verantwoordelik.

RMIS, wat in die konsep-Seksie 10-aansoek wye magte gegee word om die teenstrategie te bestuur, word deur boere met groot agterdog bejeën. RMIS word beskou as ’n struktuur wat deur die voerkrale gekaap en beheer word, en nie konsekwent in die beste belang van primêre produsente optree nie. Boere is ook baie ongemaklik met RMIS se selfopgelegde rol as hekwagter oor die entingsprogramme, omdat sleutelrolspelers, organisasies en waardekettingvennote gereeld op RMIS se aandrang uitgesluit word.

’n Enkele besmette bees kan ’n land se bek-en-klou status vernietig, en boere ervaar eksklusiwiteit en geheimhouding as tekens van ’n gebrek aan begrip vir die aard en omvang van die probleem.

Indien ’n geloofwaardige, polities neutrale en doeltreffende struktuur die teenstrategie moet koördineer, is dit nie RMIS nie. Toe bek-en-klouseer in April 2025 hand-uit geruk en soos ’n veldbrand begin versprei het, het die direksie van RMIS ’n verbod op kommunikasie met boere ingestel, en moes die PRO en veeartse probeer om feite en planne te vertolk. RMIS se kommunikasie was nog nooit sterk nie, en pogings om met hulle te skakel word gereeld uitgestel, gekanselleer of geïgnoreer.

’n Meer deursigtige, verteenwoordigende, neutrale en doeltreffende struktuur moet geskep word om, by gebrek aan staatskapasiteit, die stryd teen bek-en-klouseer in Suid-Afrika én in die streek te koördineer.

Dr Theo de Jager
Board Chair