Dringende Hofaansoek Teen Drakoniese Beperkings op Boere se Vermoë om BKS te Bestry

Dringende Hofaansoek Teen Drakoniese Beperkings op Boere se Vermoë om BKS te Bestry

March 2, 2026

Saai het saam met Vrystaat Landbou en Sakeliga ’n dringende aansoek in die Hooggeregshof Pretoria gebring vir ’n tussentydse interdik teen die Minister van Landbou, die Departement van Landbou en die Direkteur van Dieregesondheid, hangende ‘n hersieningsaansoek waarin die wettigheid van die Minister se besluite ten opsigte van bek-en-klouseer (BKS) maatreëls rondom entstof aangeval sal word.

Saai en sy mede-applikante beoog om die Minister se besluite en optrede met betrekking tot die BKS-entstof formeel te laat hersien en tersyde te stel op grond daarvan dat dit onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik is. Hangende hierdie hersieningsverrigtinge word dringende tussentydse beskerming van die hof versoek om verdere en onherstelbare skade te voorkom.

Die kern van die dispuut is dat die Minister tans maatreëls toepas wat effektief verhoed dat boere en die privaatsektor parallel met die staat die BKS-krisis kan help bestuur. Hierdie drakoniese benadering sluit in die belemmering van private entstofinvoer, inmenging in bestaande kommersiële invoer- en verskaffingsverhoudinge, en die effektiewe verbod op boere om self hul eie diere te laat inent.

Hierdie beperkings geld te midde van ’n erkennings deur die Minister dat die siekte buite beheer is, die verklaring van ‘n nasionale ramp en ernstige kapasiteitsbeperkings binne die staat.

“Ons staan midde-in ’n finansiële ramp. Boere vra bloot om nie verhinder te word om hul eie diere en hul bestaansreg te beskerm nie. Wanneer staatskapasiteit beperk is, kan dit nie grondwetlik regverdigbaar wees om private kapasiteit te blokkeer nie.” volgens Francois Rossouw, Hoofuitvoerende Beampte van Saai.

Die tussentydse interdik wat nou versoek word, sal verhoed dat die Minister en relevante amptenare, hangende die finale hersiening van die saak, onredelik inmeng met (1) boere wat bereid en in staat is om die BKS-entstof self wettig te bekom en aan hul eie kuddes toe te dien, en (2) wettige private invoer-, verspreidings- en voorsieningsreëlings ten aansien van BKS entstof.

Volgens dr. Theo de Jager, Direksievoorsitter van Saai: “Om boere te verbied om parallel met die staat teen bek-en-klouseer op te tree, terwyl verliese eskaleer, is nie net ekonomies skadelik nie – dit is regtens onhoudbaar. Hierdie saak gaan oor boere se reg om self op te tree en verdere verwoesting van hul kuddes en bestaansmiddels te keer.” Die hof word nou gevra om dringend regsekerheid te bring voordat verdere onherstelbare skade plaasvind.

Francois Rossouw
CEO
Dr Theo de Jager
Board Chair

Galery

No items found.