Geen mRNA-entstowwe in Suid-Afrika se Beeskudde

Geen mRNA-entstowwe in Suid-Afrika se Beeskudde

March 12, 2026

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), maak beswaar teen die gesamentlike verklaring wat deur die Minister van Landbou, John Steenhuisen, en die Duitse Federale Minister vir Landbou, Voedselsekuriteit en Streekidentiteit gemaak is tydens laasgenoemde se onlangse besoek aan Suid-Afrika.

In dié verklaring het die ministers samewerking aangekondig oor die inenting van vee en wild teen Bek-en-klouseer, insluitend ’n verbintenis om die gebruik van mRNA-entstoftegnologie in vee te ondersoek.

Saai wil dit onomwonde stel dat die meeste Suid-Afrikaanse beesprodusente en verbruikers sterk weerstand sal bied teen die invoering van mRNA-entstowwe in kuddes regoor Suid-Afrika.

Die organisasie glo dat die wetenskap nog nie die langtermynveiligheid van mRNA-tegnologie voldoende bewys het nie. Hierdie tegnologieë is wyd gebruik tydens die COVID-19-pandemie tussen 2020 en 2022, maar daar bestaan steeds beduidende debat en onbeantwoorde vrae oor moontlike langtermyn mediese gevolge.

Saai wys ook daarop dat lande soos Russia en China nie mRNA-entstowwe wyd gebruik het tydens die pandemie nie, en dat daar volgens verskeie waarnemings minder onverklaarbare mediese komplikasies gerapporteer is.

Benewens die wetenskaplike debat waarsku Saai dat verbruikersvertroue ernstig geskaad kan word indien mRNA-tegnologie in die veeproduksiesektor ingevoer word. Miljoene verbruikers wat die trauma van inperkings en ernstige inperkings op persoonlike vryhede tydens die pandemie beleef het, omdat hulle inentings met mRNA entstowwe vermy het, sal nou vrees dat hulle indirek aan hierdie piekproteïne blootgestel kan word deur die vleis en melk wat hulle verbruik.

Hierdie ontwikkeling wek ook breër kommer binne die boerderygemeenskap. Saai het reeds voorheen die Departement van Landbou en die Demokratiese Alliansie se beleidsrigting bevraagteken oor sogenaamde “valsvleis”, veral met betrekking tot die regulasies oor plant- en insekgebaseerde alternatiewe en laboratorium gekweekte vleisanaloë wat in Junie 2025 gepubliseer is.

Baie boere beskou die moontlike invoering van mRNA-entstowwe in die veesektor, saam met hierdie nuwe regulasies, as deel van ’n breër beleidsrigting wat tradisionele veeboerdery kan ondermyn en verdere druk op familieboere kan plaas.

Onlangse gebeure in Europa wys hoe ernstig boere sulke beleidsveranderinge opneem. Honderdduisende boere in lande soos Nederland, België en Duitsland het die strate ingevaar om teen beleid te protesteer wat hulle glo hul veebedryf bedreig.

Saai sal daarom geen moeite of hulpbronne ontsien om volle deursigtigheid te eis oor enige navorsing, ooreenkomste of beleidsprosesse rakende mRNA-entstoftegnologie in vee nie. Boere en verbruikers het die reg om presies te weet watter tegnologieë in die voedselproduksiestelsel ingevoer word.

Saai bly daartoe verbind om beide produsente en verbruikers te beskerm teen die invoering van tegnologieë wat onsekere gevolge vir dieregesondheid, dierprodukte en uiteindelik menslike verbruikers kan hê.

**Mediaverklaring aangeheg van Minister van Landbou, soos verwys in die bo-staande mediaverklaring.

Dr Theo de Jager
Board Chair

Galery

No items found.