Gesamentlike Landbouontwikkelingsprojek Vier Eerste Oes vir 2026

Gesamentlike Landbouontwikkelingsprojek Vier Eerste Oes vir 2026

January 23, 2026

Die gesamentlike landbouontwikkelingsprojek van Saai, AfriForum en Thabake Business Enterprise wat sedert 2022 naby Phokeng in Noordwes bedryf word, het 2026 op ’n hoë noot afgeskop met vandeesweek se oes van die seisoen se eerste 200 kg groenboontjies. Sedert die projekspan die eerste plantsiklus net meer as twee jaar gelede afgeskop het, is daar meer as 60 ton groente op die nagenoeg 0,75 ha grond geoes.

Saai en AfriForum is by die projek betrokke deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative MSW (RRAIN).

Die jongste oes volg kort op die hakke van die nagenoeg 800 kg murgpampoentjies wat in Desember hier geoes is en gelewer is aan onder meer die Tshwane- en die Johannesburg-varsproduktemarkte en die varsproduktehandelaar Freshlinq. Die deurlopende toegang tot formele varsproduktemarkte bevestig die volhoubare groei en kommersiële vordering wat die projek reeds gemaak het.

Hierdie gesamentlike landbouontwikkelingsprojek het in 2022 ontstaan ná Lebo Mosime, stigter en uitvoerende hoof van Thabake Business Enterprise, AfriForum genader het met die visie om haar kleinskaalse groenteboerdery uit te brei tot ’n ekonomies lewensvatbare landbou-onderneming. Sedertdien het die vennootskap jaarliks gegroei en word dit nou gekenmerk deur opeenvolgende plantsiklusse, verbeterde bestuurspraktyke en toenemende opbrengste.

“Die feit dat ons nou elke plantsiklus kan plant, oes en aan verskillende markte kan lewer, wys hoe ver ons gevorder het,” sê Mosime. “Elke seisoen bring natuurlik nuwe uitdagings, maar ook nuwe geleenthede om te leer, te verbeter en volhoubaar te groei. My doel bly om ’n nalatenskap te bou wat nie net my gesin nie, maar ook die breër gemeenskap waarin ek beweeg, bevoordeel.”

Saai se betrokkenheid by die projek is om deurlopend ondersteuning te bied op bestuurs-, beplannings- en produksievlak, terwyl kundigheid rakende variëteitskeuse, plaag- en onkruidbeheer deurlopend ingespan word om produksie te optimaliseer.

“Hierdie projek is ’n bewys van wat moontlik is wanneer daar oor tyd belê word in mense, vaardighede en volhoubare praktyke,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai. “Die fokus is nie net op oesopbrengs nie, maar op die ontwikkeling van ’n selfstandige, winsgewende landbou-onderneming.” Volgens Lourens is Mosime se deursettingsvermoë ’n voorbeeld vir vroue wat hul plek in die landboubedryf wil vind én vol staan.

Volgens Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, bly gesamentlike lanbouprojekte soos dié ’n kernbousteen van AfriForum se fokus op die versterking van ’n netwerk van kultuurgemeenskappe. Dié netwerk is daarop gemik om, hier aan die suidpunt van Afrika, ’n nalatenskap van goeie verhoudinge en samewerking te skep vir die verskillende kultuurgemeenskappe se kinders. “Die groei wat ons sedert 2022 sien, bevestig dat samewerking, voedselsekerheid en selfstandige gemeenskappe hand aan hand met mekaar loop. Hierdie projek wys hoe volgehoue samewerking oor tyd ’n tasbare impak op voetsoolvlak kan maak.”

Met die suksesvolle afhandeling van 2026 se eerste oes, word verdere plantsiklusse vir die jaar reeds beplan as deel van die projek se voortgesette fokus op die pad na kommersialisering.

  • Sien foto’s aangeheg.
    • Foto 1: Lebo Mosime (stigter en uitvoerende hoof van Thabake Business Enterprise), Nantes Kelder (nasionale projekkoördineerder van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum) en Leon Lourens (ontwikkelingskoördineerder van Saai) by ’n paar kratte van die jaar se eerste oes.
    • Foto 2: Lebo Mosime (stigter en uitvoerende hoof van Thabake Business Enterprise)
    • Foto 3: Groenteboerdery is arbeidsintensief en die oes daarvan ’n tydsame proses wat werkers met die hand moet aanpak.
Lebo Mosime
CEO

Thabake Business Enterprise

Leon Lourens
Development Coordinator
Nantes Kelder
National Project Coordinator: Intercultural Relations and Cooperation

Galery

No items found.