
Die hofbevel en gepaardgaande kostebevel in die dringende regsgeding wat Saai, Sakeliga en Vrystaat Landbou teen die Minister, DG en Direkteur van Dieregesondheid van die departement van landbou, oor die beheer van Bek-en-Klouseer entstof gebring het, het opnuut beklemtoon hoe vêr die burokratiese wêreld van die staatsdiens, en die erns en dringendheid van veeboerderye van mekaar verwyder is. Terwyl daar elke dag meer boerderye finansieël knak, bring die Minister na drie maande ‘n konsepraamwerk vir optrede (ń Artikel 10 inentingskema) as sy oplossing hof toe, wat ‘n week gelede deur sy eie departement verwerp is. Die huidige uitbraak is van 2022/2023 af ‘n reuse bedreiging en tog kon die Minister eers minute voor die verhoor ‘n konsep toon.
Die meer as drie maande sedert die landbou-industrie probeer het om die departement met die inhoud van die inentingskema te help, was onbekostigbaar duur, met honderde melkerye, stoettelers, kommersiële kuddes en kleinskaalse boere wat sit met verliese waarvan hulle nie weer kan herstel nie. Saai verwelkom dit dat die hof nou streng sperdatums aan die Minister gestel het, wat voor die uitgestelde hofdatum is. Indien die Minister ‘n skema wil promulgeer, moet dit voor 17 April 2026 gebeur.
Die bevel gee ook ‘n geleentheid aan boere en ander belanghebbendes wat deur die Minister uitgesluit word, om insette tot die finale inentingskema te lewer.
Die saak het vandag in die hof gedraai nadat die Minister in meer as ‘n maand nie kon aandui wat die regsgronde is vir sy aandrang wat alle aspekte van die inentingsveldtog deur die staat beheer moet word nie. Dit is nou duidelik dat daardie regsgronde nie bestaan nie, maar op ‘n ideologiese vertrekpunt van sentrale staatsbeheer eerder as private inisiatief geskoei is. Dit is hartseer dat ‘n DA Minister onderskryf aan ANC ideale van sentrale beheer. Boere verdink die staat daarvan dat sy inmenging só ontwerp is om kostes op te hoop sodat polities gekonnekteerde tenderpreneurs en parasietiese amptenare onbehoorlike voordeel kan trek, ongeag die gevolge vir veeboere op hul plase.
Algehele staatsbeheer het die veebedryf in die grootste bestaanskrisis ooit gedompel, en alhoewel daar sommige landbou-organisasies is wat dit ondersteun, is Saai en sy netwerkvennote se mandaat om te keer dat sentrale beheer nie ook as die enigste oplossing voorgehou word nie.
