
Die Mofumahadi MaMontoeli Mota-groenteprojek van die Batlokoa Ba Mota-kultuurgemeenskap in Tsheseng, Phuthaditjhaba in die Vrystaat slaag die afgelope paar weke daarin om genoegsame groente aan die plaaslike voedingskema te voorsien én produseer ’n surplus wat deur die betrokke gemeenskapslede verkoop word. Die verkope maak ’n wesenlike bydrae daartoe om gemeenskapslede se sosio-ekonomiese omstandighede en toegang tot bekostigbare, voedsame kos in die gebied te verbeter. Spinasie, wortels, pampoen en uie is met sukses geproduseer. Dit volg op die opleiding in groenteproduksie wat gemeenskapslede in Desember 2025 ontvang het en die suksesvolle installering en inbedryfstelling van ’n sonkrag-aangedrewe drupbesproeiingstelsel in September 2025.
Die groenteprojek is ’n gesamentlike inisiatief van die uitvoerende komitee van die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San Leiers (NHTKL), AfriForum, Saai en die kantoor van Morena e Moholo (hoof- tradisionele leier) Montoeli Mota, van die Batlokoa Ba Mota. Dié geskiedkundige vennootskap is tot stand gebring as deel van die heel eerste jaarlikse Lenaka-gedenklesing wat aan die einde van 2024 by Manthatisi Hoërskool gehou is. AfriForum en Saai ondersteun die projek deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN).
“Ek is baie trots op ons gemeenskapslede wat deur hul harde werk en deursettingsvermoë daarin slaag om meer groente te produseer as wat die voedingskema nodig het en wat hulle in staat stel om ook ’n inkomste te verdien. Ek is ook trots dat hulle die kennis en vaardighede wat aan hulle oorgedra is, met sukses gebruik omdat dit dien as bewys van die potensiaal wat in landelike gebiede deur die regte ondersteuning ontsluit kan word. Ek hoop hierdie sukses motiveer ander rolspelers om ook deel van die projek te word sodat dit tot sy volle potensiaal kan ontwikkel,” sê Morena e Moholo Montoeli Mota, Morena e Moholo van die Batlokoa Ba Mota-kultuurgemeenskap.
“Die jaarlikse Lenaka-gedenklesing dien nie slegs as ’n platform om ons erfenis en kulturele identiteit te vier nie, dit fokus ook daarop om ontwikkeling binne tradisionele gemeenskappe te bevorder. Die sukses van hierdie projek bevestig die positiewe rol wat tradisionele leiers en tradisionele leierskapstrukture, soos die NHTKL en provinsiale huise, in die sosio-ekonomiese ontwikkeling van voetsoolvlakgemeenskappe kan speel wanneer opregte vennootskappe met ’n gedeelde visie en waardes tot stand gebring word,” sê Kgosi Thabo Seatlholo, voorsitter van die NHTKL.
Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, is goeie verhoudings en samewerking tussen kultuurgemeenskappe, gegrond op wedersydse erkenning en respek, noodsaaklike boustene vir die versekering van vreedsame en voorspoedige naasbestaan in die land. “Groot uitdagings staar gemeenskappe in die gesig wat slegs deur gemeenskapsbou opgelos kan word. Dit is verblydend om te sien hoe hierdie projek gemeenskapselfstandigheid tasbaar bevorder en ’n positiewe impak op mense se lewens maak,” sê Uys.
“Baie van die landelike, kommunale gebiede het goeie landboupotensiaal wat die beste deur die kommersialisering van landboubedrywighede ontwikkel en benut kan word. Daarom is dit noodsaaklik om die groei van meer kommersiële boere in hierdie gebiede te bevorder waar dit die nodigste is. Projekte soos hierdie skep ontwikkelingsgeleenthede vir kleinboere wat die potensiaal het om tot kommersiële boere te ontwikkel. Dit is daarom vir Saai ’n prioriteit en voorreg om ook by hierdie inisiatief betrokke te wees,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai.
“Hierdie projek is na my moeder, Mofumahadi (koningin) MaMontoeli Mota, vernoem, omdat goeie dade soos hierdie, wat ’n toekoms vir ons kinders moontlik maak, die beste manier is om ons voorouers se nalatenskap te eer,” sluit Morena e Moholo Mota af.
