
Die eerste tree in die rigting van moontlike litigasie deur Saai om die SADC-staatshoofde te dwing om die SADC-tribunaal in Windhoek weer te heropen en sodoende toegang tot geregtigheid vir 400 miljoen burgers van die 16 SADC-lande te herstel, het Saai aan die Ministers van Justisie en Prokureurs-generaal van al vyftien lidlande van die SADC, asook aan die sekretariaat van SADC, geskryf om te pleit vir die onmiddellike herstel van die SADC-tribunaal.
Nadat die SADC-tribunaal in November 2008 teen die regering van Zimbabwe beslis het in die saak van Mike Cambell en ander boere wie se plase sonder vergoeding onteien is, is die tribunaal in 2011 deur ’n vergadering van die SADC-staatshoofde opgeskort. Die regters van die tribunaal is nooit weer aangestel toe hul termyne verstryk het nie, en die tribunaal het effektief disfunksioneel geraak.
Sowel die Suid-Afrikaanse as die Tanzaniese konstitusionele howe het sedertdien beslis dat die beëindiging van die tribunaal onreëlmatig en ongrondwetlik was, aangesien dit burgers van die SADC-streek hul reg op toegang tot die howe ontneem het.
Die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof het die besluit van SADC-leiers as “’n sameswering deur staatshoofde” bestempel.
Die nuwe protokol wat deur SADC opgestel is om die mandaat van die tribunaal te wysig en sy bevoegdhede af te water tot slegs geskille tussen state, het nooit die vereiste tweederdemeerderheid van handtekeninge behaal om van krag te word nie. Die howe in Tanzanië en Suid-Afrika het ook gelas dat hul staatshoofde hul steun aan hierdie wysiging onttrek, wat die aantal lidlande ten gunste van die effektiewe ontbinding van die tribunaal tot ’n 44%-minderheid verminder het.
Hoewel SADC onlangs sy verbintenis tot die herlewing van die tribunaal bevestig het, noop die feit dat daar die afgelope 13 jaar niks gedoen is om dit te bewerkstellig nie, die burgerlike samelewing om aktiewe stappe te neem om die leierskap in die streek aanspreeklik en verantwoordbaar te hou.
’n Afskrif van die volledige verklaring deur Saai wat aan SADC-lidlande en die SADC-sekretariaat gesirkuleer is, word hierby aangeheg.
