Saai Meld Ernstige Waarskuwing Oor Die Ineenstorting Van Die Regsraamwerk Vir Die Regulering Van Landbou-Insette

Saai Meld Ernstige Waarskuwing Oor Die Ineenstorting Van Die Regsraamwerk Vir Die Regulering Van Landbou-Insette

November 20, 2025

Oorsig oor die krisis:

  • Saai is ’n nasionale netwerk van familieboere. Ons lede is afhanklik van betroubare toegang tot kunsmis, dierevoere, landboumiddels en veemiddels alles gereguleer onder die Wet op op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, Wet 36 van 1964 (“Wet 36”).
  • Vir meer as ’n dekade al staan die kantoor wat verantwoordelik is vir die regulering van hierdie landbou-insette (die kantoor van die Registrateur van Wet 36) gebuk aan ernstige probleme, soos reeds in ’n Ministeriële Taakspanverslag van 2 September 2011 uitgewys is. Dit blyk egter of die saak nou selfs ernstiger vlakke van staatsverval bereik het.
  • Sleutelprobleme sluit in: uitermatige lang omkeertye in die verwerking van registrasies en aansoeke (soms tot ses jaar); blokkering van nuwe tegnologie en noodsaaklike produkte sonder alternatiewe in die mark; ’n gebrek aan basiese digitale infrastruktuur en saakbestuur; voortgesette afhanklikheid van papiergebaseerde prosesse; onvoldoende gekwalifiseerde personeel; en ’n bykans heeltemal verstopte registrasiestelsel.
  • Die gevolg: boere en veeartse kan nie noodsaaklike insette bekostig of bekom nie; innovasie en nuwe produkte stol; en die winsgewendheid van boere en die landbousektor word direk benadeel.
  • Die risiko: voedselproduksie, dieregesondheid, biosekuriteit en die breër landbouwaardeketting word bedreig.

Wat Saai eis – en waarom maak dit saak:

Saai het ons prokureurs opdrag gegee om ’n formele aanmaning aan die Minister van Landbou, die Departement van Landbou en die Registrateur van Wet 36 te rig waarin dringende ingryping deur die staat geëis word.

“Boere raak toenemend bekommerd oor die Departement van Landbou se versuim om in te gryp,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai. “Dit blyk asof die ses-jaar-omkeertyd om landbou- en veemiddels te registreer, nou as normaal aanvaar word. Dit is alles behalwe normaal.”

In 2011 het ’n Ministeriële Taakspan (MTT), wat aangestel is deur die destydse Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, ’n verslag gelewer oor die Departement se onvermoë om registrasie-aansoeke vir landbou- en veemiddels binne ‘n redelike omkeertyd af te handel. Die MTT is in 2009 saamgestel na aanleiding van litigasie teen die Minister. Die taakspan se aanbevelings is klaarblyklik nog nooit behoorlik geïmplementeer nie.

“Ons het dringend ’n eerlike en deursigtige antwoord oor wat al aan die saak gedoen is, wat nog uitstaande is, en watter werkbare planne daar bestaan om die stelsel te herstel nodig. Boere se bestaan, dieregesondheid en ons land se voedselsekerheid is op die spel.”

Saai is die afgelope maande deur talle lede van die boerdery-, veeartseny- en landbou-insetbedryf, sowel as onafhanklike kundiges, genader. Hulle waarsku almal teen die ernstige en toenemende krisis wat Suid-Afrikaanse landbou bedreig.

“Daar is kritieke landbou- en veemiddelprodukte wat al jare lank in die Registrateur se agterstand vassteek,” sê Rossouw. “Baie van die aansoeke behels tegnologiese verbeteringe en alternatiewe wat reeds in ander lande goedgekeur is en wyd gebruik word. Dit is nie buitengewone of ongetoetste produkte wat jare se evaluering verg nie. Die probleem is dat hierdie aansoeke in Suid-Afrika eenvoudig nié afgehandel word nie. Dit is nie ’n gewone vertraging nie – dit is ’n totale administratiewe ineenstorting wat vooruitgang, volhoubaarheid en mededingendheid in landbou terughou.”

Hierdie krisis is nie meer blote spekulasie nie. Boere voel reeds die gevolge daarvan. In die Kakamas–Augrabies-gebied in die Noord-Kaap plaas ’n uitbreking van slenkdalkoors plaaslike vee onder ernstige bedreiging. ’n Entstofaansoek vir hierdie siekte, ingestel deur die insetprodusent Design Biologix, is al jare in die Registrateur se agterstand vasgevang, ondanks die feit dat die middel gereed is vir vervaardiging en reeds deur internasionale reguleerders goedgekeur is.

“Design Biologix is maar een voorbeeld van hoe regulatoriese verval dieregesondheid, familie boerdery en voedselsekerheid in die gedrang bring,” sê Rossouw. “Ons werk saam met hulle en ’n aantal ander landbou-insetprodusente wat moderne, veiliger en meer gevorderde alternatiewe gereed het, maar wat eenvoudig nie deur die stelsel kom nie. In plaas daarvan dat ons vooruitgang te sien, kyk ons hoe werklike siekte-uitbrekings plaasvind terwyl noodsaaklike middels letterlik stof vergaar in lêerkabinette en op kombuistafels by die Registrateur.”

Volgens Saai se Boere-Insetkostesindeks (FICI) styg boerderyinsette die afgelope jare teen byna dubbel die koers van gewone verbruikersinflasie, met skerp styging in kunsmis, landboumiddels, dieregesondheidsprodukte, brandstof en elektrisiteit. Dit is presies die produkte wat onder Wet 36 gereguleer word en baie van die goedkoper, veiliger en meer doeltreffende formulerings wat hierdie druk kan verlig, sit by die Registrateur vas. Die gevolg is dat boere moet staatmaak op ouer, duurder landbou-produkte of kies om heeltemal daarsonder te bly, terwyl goedkoper moderne alternatiewe wêreldwyd beskikbaar is. Om die registrasie-agterstand in te haal, is een van die vinnigste maniere waarop die staat boerderyinsetkoste – en uiteindelik ook kospryse vir verbruikers – kan afbring.

Gegewe die onvolhoubare aard van die huidige situasie, eis Saai dat die staat die volgende voorsien:

  • ’n Gedetailleerde verslag oor die implementering van die 2011-MTT-aanbevelings, insluitend begrotingsaanpassings en maatreëls sedert 2024 om institusionele en wetenskaplike kapasiteit te herstel.
  • ’n Tydsgebonde implementeringsplan met meetbare uitsette om stelsels te moderniseer, wetenskaplike funksionaliteit te herstel, vakatures te vul, die enorme agterstande op te klaar, en die regulasieraamwerk onder Wet 36 te herstel.
  • ’n Formele onderneming dat onmiddellike stappe geneem sal word om die Registrateur se kantoor te stabiliseer en regmatige, rasionele en verantwoordbare funksionering te herstel, saam met ’n duidelike roetekaart van beoogde stappe.

Waarom die saak nie kan wag nie

Die krisis is dringend en toenemend ernstig. Boere en verskaffers word effektiewelik deur die staat by die mark uitgesluit, met registrasievertragings wat soms meer as ses jaar duur. Nuwe landbou- en diregesontheidsoplossings bly ontoeganklik. Innovasie in landbou word gestuit.

“Ons hou nie by die res van Afrika by nie, wat nog te sê die res van wêreldlandbou” waarsku Rossouw.

Die gevolg? ’n Vakuum in voorgeskrewe regulasie wat die hele landbouwaardeketting – en daarmee saam die publiek se toegang tot veilige, bekostigbare kos – in ernstige gevaar plaas.

Saai het ons prokureurs opdrag gegee om die saak te ondersoek en indien die staat nie dringend en daadwerklik optree nie, rondom moontlike litigasie te adviseer.

Ondersteun Saai in hierdie saak: https://sluit-aan.saai.org/af

Francois Rossouw
CEO