
Die familieboerenetwerk Saai het ‘n vereniging geloods vir agentskappe wat Suid-Afrikaners help om werk op plase in die VSA te kry. Die vereniging, H2A Agency Association of H2AAA, het ten doel om die integriteit van die professie, sowel as die geleenthede wat jaarliks aan Suid-Afrikaners en plaaswerkers van elders in die wêreld gebied word, te beskerm en te bevorder.
H-2A is ‘n tydelike visumprogram wat boere in die VSA sedert 1952 in staat stel om seisoenale werkers uit verskeie lande regoor die wêreld te werf om op hul plase te werk. In die 2024/2025-seisoen het sowat 25 000 Suid-Afrikaners aan die program deelgeneem. Boere in die VSA skakel meestal met agentskappe wat werksaansoekers keur, hulle met administratiewe- en reisreëlings bystaan, en as tussenganger tussen VSA-boere en Suid-Afrikaanse werkers optree.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai se direksie, sê dat as soortgelyke geleenthede vir jong mense in Suid-Afrika beskikbaar was, sou daar nie soveel van hulle elke jaar in die VSA gaan boer nie. “Hulle werk met vee, bestuur plase, tree op as masjienoperateurs, trekker- en trokdrywers, en is veral tydens plant- en oestyd baie besig. Wanneer hulle terugkom, is dit met veel meer as net kapitaal om verder te studeer of eiendom te koop; hulle bring ook waardevolle ervaring met die nuutste tegnologie en blootstelling aan internasionaal kompeterende landboubestuursmodelle terug.”
Agentskappe wat hierdie geleenthede vir Suid-Afrikaners fasiliteer en benut, is nou vir die eerste keer genoop om hulself beter te organiseer en selfregulerende maatreëls in te stel om die bedryf te beskerm. “Daar is ‘n toenemende aantal eendagsvlieë wat oningeligte, en dikwels desperate aansoekers uitbuit, onrealistiese verwagtinge skep en dan met groot bedrae geld verdwyn sonder om te lewer,” sê Gideon Jacobs, nuutverkose Sekretaris, wat self al vir verskeie jare onder die program gewerk het en ook ‘n agentskap bedryf. “Hulle gee ons bedryf ‘n slegte naam, beide onder aansoekers in Suid-Afrika en onder boere in die VSA.”
Volgens William Radloff, nuutverkose Voorsitter van H2AAA, van Agriplacements International Agency, gaan boere in die VSA groot onkostes aan om Suid-Afrikaanse werkers op hul plase te kry. Wanneer dié werkers in die VSA aankom, word hulle toenemend deur sekere agente na ander boere gelok, wat die reputasie van die Suid-Afrikaanse aanbod skade berokken. “Ons Suid-Afrikaanse aansoekers is gewild omdat hulle toegewyde en hardwerkende mense is, met goeie ervaring en vaardighede. Dit is dié reputasie wat ons ten alle koste moet beskerm! As ‘n nasionaliteit eenmaal ‘n reputasie kry dat hulle nie lojale werkers is nie en van plaas tot plaas spring, verkies boere ander werkers, en ons H2A-agentskapsvereniging gaan daarop fokus om die aansien en handelsmerk van Suid-Afrikaanse plaaswerkers te beskerm.”
Francois Rossouw, Uitvoerende Hoof van Saai, sê dat hoewel die vereniging nie kan verhoed dat VSA-boere en Suid-Afrikaanse aansoekers met enige persoon of instansie wat voorgee om ‘n voetspoor in die bedryf te hê, besigheid doen nie, kan die risiko’s beklemtoon word. “Saai loods hierdie vereniging met ‘n gedragskode wat deur alle lede onderteken word. Die grondwet van die vereniging maak voorsiening vir ‘n integriteitskomitee wat die gedragskode moet toepas, klagtes kan ontvang, dit deursigtig ondersoek, en stappe teen onetiese gedrag kan neem. Enige aansoeker in Suid-Afrika of boer in die VSA wat met ‘n agentskap besigheid wil doen, kan op die webwerf sien of die agentskap hom aan die gedragskode onderwerp en in goeie aansien is. As so ‘n agentskap nie ‘n lid is wat aan die gedragskode onderworpe is nie, moet kliënte verstaan dat hul risiko groter is,” sê hy.
De Jager sê dat hulle reeds vir ‘n geruime tyd met H2A-agentskappe in gesprek is, en dat die inisiatief om H2AAA te stig uit die bedryf self gekom het. “Dit is ‘n vereniging vir die industrie, uit die industrie,” sê hy. “Ons is dankbaar vir die wye steun wat ons in die aanloop tot die stigting gekry het, met die oorgrote meerderheid agentskappe as stigterslede. Daar is sekerlik nog agentskappe wat ons in ons kommunikasiepoging gemis het, maar ons hoop om hulle so gou moontlik ook aan boord te kry.”
William Radloff is as Voorsitter van die vereniging verkies, Charlotte Portwig as Visevoorsitter, Gideon Jacobs as Sekretaris, Frederik Visser as Tesourier en Callie Visagie as Sameroeper van die Integriteitskomitee.
Die H2AAA se webtuiste is https://bit.ly/h2aaa
Foto’s aangeheg:
Stem Boodskappe aangeheg van William, Charlotte, Gideon en Kallie
