
Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het vandag ’n kragtige beroep gedoen dat die Mpumalanga Voedingwet, 2025 onmiddellik teruggetrek en herskryf word. Saai beskryf die wetsontwerp as ’n ongrondwetlike poging tot sentrale beplanning wat nie net familieboere uitsluit nie, maar ook voedselsekerheid in die provinsie ernstig sal ondermyn.
In sy amptelike kommentaar aan die Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling, Grond- en Omgewingsake, waarsku Saai dat die wetsontwerp ’n staatgesentreerde, monopolie-agtige aankoopstelsel daarstel wat die vryheid van provinsiale staatsorgane om self te tender en te koop, ontneem.
“Hierdie wet skep nie ’n mark nie dit bou ’n hek. En net die wat inpas by ’n eng politieke en rasseprofiel gaan daardeur mag stap,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.
Saai se grootste bekommernisse sluit in, ’n onwettige sentralisering van staatstenders by die sogenaamde “Mpumalanga Internasionale Varsproduktemark”, wat dan self bepaal of iemand anders enigsins mag lewer. Rassegebaseerde uitsluiting van gevestigde familieboere, met definisies wat ongrondwetlik vaag en selektief is. Burokratiese permit- en kontrakvereistes wat entrepreneurskap dooddruk en ruimte skep vir politieke ginsgenote. Kapitaal- en kennisvlug uit Mpumalanga se landbou-ekonomie, wat tot werkverliese en swak dienslewering gaan lei. Vertragings in voedingsprogramme vir skole, klinieke en gevangenisse as gevolg van logge, sentrale prosesse.
“By Saai het ons geen beswaar teen positiewe transformasie nie – waar die doel is om ’n spesifieke groep mense te bevoordeel of op te hef. Ons is egter gekant teen negatiewe transformasie, waar die fokus val op aktiewe diskriminasie en die doelbewuste benadeling van ander.” Sê Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.
Die wetsontwerp bots direk met artikel 217 van die Grondwet, wat voorskryf dat staatsaankope regverdig, mededingend, deursigtig en koste-effektief moet wees. Die wetsontwerp verplig egter alle provinsiale departemente om slegs deur een sentrale mark te koop—behalwe as daardie mark self verklaar dat hy nie kan lewer nie.
Saai waarsku dat hierdie model nie opkomende boere gaan bemagtig nie, maar eerder ’n skyn van transformasie gaan skep terwyl dit ware toegang, kapitaal en kennis stroop.
’n Beroep op intrekking en nuwe gesprek
Saai versoek dat die wetsontwerp heeltemal teruggetrek word en dat die Departement die proses van oordentlike openbare konsultasie begin saam met grondwetkenners, ekonomiese deskundiges en alle belanghebbende boere – nie net dié wat politiek aanvaarbaar is nie.
“Transformasie in landbou kan nie gebou word op uitsluiting en sentrale beheer nie. Dit moet gebou word op toegang, entrepreneurskap en vrye keuse,” sê Rossouw.
Saai sal aanhou om die belange van familieboere te verdedig en die beginsels van oop markte, billike mededinging en grondwetlike regte vir álle Suid-Afrikaanse boere te beskerm – ongeag ras of politieke bande.
