
Tuks Landbou het op 3 April 2025 ’n mylpaal gevier toe lede, vennote en ondersteuners by Hennie’s Waterkloof in Pretoria bymekaargekom het om die organisasie se 45ste bestaansjaar aan die Universiteit van Pretoria te vier. Die aand was ’n viering van jong leierskap in landbou, die krag van samewerking, en die toekomsvisie van Suid-Afrika se opkomende boere. Die byeenkoms het jong studente van Tuks Landbou die geleentheid gegee om hul 2025-hemde in ontvangs te neem en amptelik as lede ingeskakel te word in die groter Jongboerestruktuur van Saai, ’n netwerk waarin ook Stellenbosch Landbou en Farmers Lovers van die Universitiet van die Vrystaat ’n belangrike rol speel.
’n Hoogtepunt van die aand was die teenwoordigheid van die UFC middelgewig wêreldkampioen, Dricus du Plessis (self ’n trotse oud-Tukkie). Sy boodskap oor deursettingsvermoë, identiteit en trots in jou roeping het weergalm by die jong aanstaande boere, en die gehoor het sy storie met groot waardering ontvang. Francois Rossouw, HUB van Saai, het tydens die geleentheid sy waardering uitgespreek vir die pad wat Tuks Landbou en sy sustergroepe stap: “Hierdie netwerk is nie net ’n studentebeweging nie, dis ’n belegging in die toekoms van landbou. Ons sien in 2025 meer projekte, gedeelde geleenthede, en sterker bande tussen die jongboere van verskillende universiteite.” Tuks Landbou-voorsitter Andrea Schutte het ’n blik op die komende jaar gegee: “Wat ons doen, is van studente vir studente. Ons wil nie net feesvier nie – ons wil ’n verskil maak. Dis ’n eer om saam met vennote soos Saai en ons borge aan ’n sterker, meer volhoubare landbousektor te bou.”
Tuks Landbou se werk sou nie moontlik wees sonder die lojale ondersteuning van sy borge nie. Hoofborg Boran SA staan in 2025 sentraal tot die program, en verskeie praktiese aktiwiteite soos kursusse, veilings en kennisdelingsessies word saam met hulle aangebied. Ander gewaardeerde vennote sluit in Farm Chemicals, Case IH, Epol en RusselStone Group. Veral Case IH, wat al vier jaar lank met Tuks Landbou saamwerk, speel ’n aktiewe rol deur studente te betrek by hul landboudae, studente te gebruik in handelsmateriaal, en gereeld geleenthede tot blootstelling en ervaring te bied.
Wat hou 2025 in? Tuks Landbou beoog om in 2025:
Die jaar sal afgesluit word met die amptelike jaarafsluitingsdinee, maar vir nou is die fokus op groei, deelname en impak. “Ons studente is ywerig, prakties en passievol. Hulle is die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou – en ons is hier om hulle pad te ondersteun,” sluit Schutte af.
