Uitspraak van Bek-en-Klouseerhofsaak

Uitspraak van Bek-en-Klouseerhofsaak

May 25, 2026

Die uitspraak in die Pretoria Hooggeregshof teen die Minister van Landbou en ander staatsinstellings is ’n oorwinning vir elke vee- en wildboer in Suid-Afrika. Ná meer as ’n jaar se wegholverspreiding van die staatsbeheerde siekte, bied dit uiteindelik hoop dat die betrokkenheid en inisiatief van die private sektor die kritieke kapasiteit kan verleen om die siekte te stuit.

Saai is verheug oor die oorwinning in die hof, maar ons harte gaan uit na diegene vir wie dit te laat gekom het, en wat reeds groot skade gely of selfs alles verloor het terwyl hulle vir die staat moes wag om entstof te bekom.

In sy uitspraak bevestig Regter Van der Westhuizen dat die minister, sy departement en senior amptenare nooit ’n geldige verweer gehad het nie, en verantwoordelik is vir die maande lange gesloer met ’n doeltreffende privaatsektor geleide inentingsveldtog, wat honderde boerderye laat struikel of vernietig het.

Die uitspraak is ook ’n oorwinning teen die onregverdige sentralisering van besluitneming, mag en uitvoering in die staat, wat lankal nie meer die vermoë het om veesiektes doeltreffend te bestry nie, asook teen elke politieke party, die Departement van Landbou, landbou-organisasies, akademici en aktiviste wat kaderbeheer wou beskerm en bevorder. Dit is ’n oorwinning teen ongekontroleerde magsmisbruik wat onmeetbare materiële en emosionele skade veroorsaak het aan veeboere.

Saai beskou dit ook as ’n oorwinning teen organisasies waarvoor boere vertroue gehad het om hul belange te behartig, maar wat mettertyd meer krities teenoor die hofsaak geword het as teenoor die staat self.

Saai hoop dat die minister, sy departement en hul lojale ondersteuners in die landboubedryf die uitspraak sal aanvaar, en nie weer verder teen boere en hul verteenwoordigende organisasies sal werk om die bekampingspoging teen BKS te saboteer nie.

Saai glo die uitspraak kan nou uiteindelik die veebedryf op die voorvoet plaas om die oorlog teen BKS te wen.

Om die volle uitspraak te lees volg die skakel: https://bit.ly/CourtOrder_FMD-Sakeliga-Saai-VL

**Foto: Verteenwoordigers van Saai, Sakeliga en Vrystaatlandbou saam met hulle regsverteenwoordiging

Francois Rossouw
CEO
Dr Theo de Jager
Board Chair