
Die Suider Afrikaanse Agri-Inisiatief (Saai), wat die belange van familieboere in Suid-Afrika verteenwoordig, waarsku dat die voortdurende vertraging deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) om die eerste kwartaal se misdaadstatistiek bekend te maak, die landelike veiligheid ernstig ondermyn en die publiek se vertroue in wetstoepassing verswak.
Onlangse onafhanklike data van die Landelike Veiligheid Statistiek Groep SA toon dat plaasaanvalle in 2025 skerp toegeneem het, met 143 aanvalle tussen Januarie en Oktober teenoor 121 in dieselfde tydperk in 2024. Dit beteken ’n gemiddelde van 14,3 aanvalle per maand, teenoor 12,1 verlede jaar.
Gauteng is tans die hardste getref met 32% van alle plaasaanvalle, gevolg deur Mpumalanga (15%) en Noordwes (13%), wat saam 60% van alle aanvalle uitmaak. Limpopo (11%) en die Wes-Kaap (10%) volg daarna.
Plaasmoorde toon ’n geringe afname: 16 moorde in 2025 teenoor 19 in 2024, wat 11% van alle plaasaanvalle verteenwoordig. Gauteng het die hoogste persentasie met 31% van die moorde, gevolg deur die Vrystaat en Oos-Kaap (19% elk).
“Hierdie vertraging is meer as net ’n administratiewe probleem. Elke dag sonder betroubare data is ’n dag waar gemeenskappe blind moet beplan. Wanneer boere nie weet wat in hulle area gebeur nie, word dit feitlik onmoontlik om voorkomend op te tree of samewerking met plaaslike polisiëring te verbeter. Die gebrek aan tydige inligting wys eenvoudig dat die platteland nie ’n prioriteit vir die staat is nie,” sê Leon Lourens, Ontwikkelingskoördineerder van Saai.
Die versuim deur SAPD om tydige misdaadinligting bekend te maak, verswak die parlement se toesigrol en skep die indruk dat landelike veiligheid eenvoudig nie op die regering se agenda is nie. Die gebrek aan data maak die situasie nóg meer kommerwekkend, aangesien dit die doeltreffende toewysing van hulpbronne belemmer.
Saai doen ’n dringende beroep op die waarnemende Minister van Polisie, professor Firoz Cachalia, en die Nasionale Kommissaris van die SAPD om die uitstaande misdaadstatistiek sonder verdere vertraging bekend te maak, ’n volledige verduideliking aan die publiek te gee vir die uitstel, en te verseker dat daar voortaan ’n konsekwente en deursigtige vrystellingskedule gevolg word.
As deel van sy breër mandaat om familieboere te beskerm, werk die organisasie reeds hand-aan-hand met gemeenskapsveiligheidsforums, plaaswagte en landelike strukture om veiligheid in die platteland te versterk. Hierdie pogings kan egter slegs suksesvol wees indien die staat betroubare en tydige data beskikbaar stel.
Deursigtigheid en aanspreeklikheid is nie onderhandelbaar nie. Dit is die fondament van openbare vertroue en nasionale stabiliteit. Totdat die SAPD konsekwente en betroubare misdaadinligting publiseer, sal Suid-Afrikaners, veral dié op die platteland bly wonder of hul veiligheid werklik saak maak.
Uitgereik deur:
Saai – Suider Afrikaanse Agri-Inisiatief
Media navrae:
info@saai.org
012 030 0707
Kontakpersoon: Leon Lourens – Ontwikkelingskoördineerder
