Wiesenhof en Saai Tree Saam op om BKS Boere by te Staan

Wiesenhof en Saai Tree Saam op om BKS Boere by te Staan

February 20, 2026

Terwyl die Bek-en-klouseerkrisis soos ’n veldbrand deur Suid-Afrika versprei en staatsreaksie boere in wanhoop laat, kies die privaatsektor om nie langer langs die kantlyn te staan nie.

Wiesenhof Coffee Roastery het hande gevat met die Suider Afrika Agri Inisiatief (Saai) om by te dra tot Saai se rampfonds wat familieboere gaan ondersteun wat deur Bek-en-klouseer en administratiewe wanbestuur verwoes is.

Waar regeringsprosesse sloer en onsekerheid markte lam lê, beweeg sakeondernemings nou daadwerklik om boere te help oorleef.

Vier jaar gelede het Wiesenhof reeds ’n persentasie van sy wins op elke koppie koffie, en verskeie items by Wiesenhof en Dulce resturante beskikbaar gestel om plaasveiligheid en tegnologiese modernisering te bevorder. Vandag word daardie verbintenis verder uitgebrei, met ’n verskerpte fokus op biosekuriteit, entstoflogistiek en noodondersteuning aan boere wat finansieel op hul knieë gedwing is. “Wanneer jy ’n koppie koffie by ons geniet, staan jy saam met ons boere. Saam bou ons aan ’n sterker landboubedryf en beskerm ons voedselsekerheid vir die toekoms” Kobus Wiese, eienaar van Wiesenhof.

“Familieboerderye is die ruggraat van voedselsekerheid. Wanneer hulle val, val gemeenskappe saam,” sê Dr Theo de Jager, Direksievoorsitter van Saai. “Hierdie vennootskap bewys dat die privaatsektor bereid is om verantwoordelikheid te neem wanneer strukture faal.”

Die nuwe fonds is nie bloot simbolies nie, dit is ’n praktiese reddingsboei vir produsente wat sukkel om kuddes te beskerm, bewegingspermitte te bekom, markte te behou en kontantvloei te oorleef.

Kobus voeg by “Landbou is die hart van ons land. Met elke koppie koffie kies ons om daardie hart sterker te laat klop.”

Op Vrydag 20 Februarie om 8:00 het  Wiesenhof ’n tjek aan Saai oorhandig by die Wiesenhof Koffiewinkel in Franschhoek, ’n sigbare bewys dat elke koppie koffie nou deel word van ’n groter stryd om Suid-Afrika se familieplase te red.

Die boodskap is duidelik: as die staat nie betyds reageer nie, sal die gemeenskap en die sakewêreld!

Die BKS krisis het baie familieboerderye op n punt gebring waar hulle nie sonder hulp van buite gaan oorleef nie. Die vennootskap tussen Saai en Wiesenhof het ten doel, om se vêr as moontlik daardie hulp te ontsluit. Saai is diep dankbaar vir Wiesnhof se bydrae en hoop om meer sakeondernemings by die vennootskap te betrek.

**Foto aangeheg: Kobus Wiese, eienaar van Wiesenhof en Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Dr Theo de Jager
Board Chair